Die ‘Kundige’ in jou! Deur Lizelda Goslin

Die tema vir Maartmaand se uitgawe van ons geliefde WOW Tydskrif is “Kundiges/Experts”. Die woord kundiges klink sommer net intimiderend vir die gewone man op straat. ʼn Kundige word voorgehou as hierdie geleerde persoon met een of meer grade en sommer ʼn klomp addisionele geskrifte wat teen die kantoormuur pronk. Meeste mense sien kundiges in ʼn klas van hul eie en voel minderwaardig en klein in die geselskap van iemand wat hulle as ʼn kundige bestempel. Verder word ʼn kundige gewoonlik gesien as iemand wat suksesvol is, en hierdie sukses word dan moontlik aan die grootte van die kundige se bankbalans, besigheid of praktyk gemeet.

Wat is egter die definisie van ʼn kundige? Dit is ʼn persoon wat baie kennis het oor ʼn spesifieke veld of baie ervaring in die veld opgedoen het. In perspektief van die definisie, mag dit dan moontlik wees dat meeste persone wat hulself as onbelangrik bestempel, moontlik in hul eie reg ook ʼn kundige wees. Of dit ʼn tiener is wat ʼn kundige met hul rekenaar geword het, of dit ʼn persoon is wat homself geleer het om ou karre tot die fynste detail te restoureer. Hulle is ook kundiges. Die mamma wat haar kind tot in sy siel in kan beskryf of die klerk wat die interne politiek van die besigheid tot op die been kan oopvlek. Hulle is ook kundiges in eie reg.

Die doel waarom die bogenoemde geopper word, is omdat mense hulself en hul kundigheid so maklik kan afkraak. Die redes hiervoor is omdat hulle voel hulle het nie ʼn akademiese kwalifikasie nie, of andersins omdat hulle nog nie sukses behaal het nie. Nog ʼn rede is omdat persone voel daar is soveel mense wat nog meer weet as hulle en soveel meer ervaring het as wat hulle ooit sal hê. Dit is egter nodig om te weet dat daar altyd mense sal wees wat meer van jou kundigheidsveld weet as jy; selfs ʼn dokter of spesialis sal jou na ʼn ander dokter of spesialis verwys, omdat hulle besef hul kundigheid of ervaring met ʼn sekere toestand is minder as ʼn ander dokter s’n.

Om ons selfvertroue en selfbeeld te bou, is dit nodig om aan ons sterk kwaliteite, ons kennis en ons ervarings erkenning te kan gee. Om raak te sien wat dit is wat ons reg doen en waar ons met wysheid en nederigheid ons kundigheid kan oordra. Soveel mense bestempel hulself as dom, omdat hulle onbeholpe voel met sekere aspekte van die lewe, byvoorbeeld as hulle aanhoudend sukkel om ʼn rekenaarprogram te verstaan of aan die ander kant omdat hulle nie goeie punte in sekere vakke op skool gekry het nie. Ons almal het ʼn aanleg en ons vermoëns is net soveel sterker in die areas waarin ons aanleg lê; byvoorbeeld ʼn persoon wat van enigiets in die yskas ʼn wonderlike gereg kan maak, maar in die ander areas soos rekenaars het hulle nie ʼn natuurlike aanvoeling nie en daarom sal hulle daarmee sukkel.

In elkeen van ons is daar iets besonders wat ons as mens spesiaal en uniek maak, maar ons kan dit nie altyd meet aan die tipiese standaard van sukses nie. Daardie eienskappe bring nie noodwendig geld in die bank of ʼn groot besigheid nie, maar eienskappe soos deernis en omgee bring vriendskappe, terwyl eienskappe soos georganiseerdheid en analitiese denke ʼn besigheid se ruggraat vorm. Ons elkeen is ʼn deel van die liggaam, jy’s miskien die voete en jou kollega die elmboog, maar elkeen het ʼn besonderse funksie en met vertroue in jou kundigheid moet jy weet en glo dat jy ʼn verskil kan maak.

WOW Magazine – Living March 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search