Natuurlik kan jy werk kry!

Maak nie saak hoe bevoorreg jy is om ‘n tuisbly ma te wees nie, daar kom ’n punt wanneer jy voel dat jy om ekonomiese redes, of bloot omdat jy die stimulasie van ’n werk mis, weer die arbeidsmark wil betree.

Nie net moet jy ‘n kopskuif maak nie, jy moet jou vaardighede in ’n daagliks veranderende wêreld ontwikkel sodat jy met selfvertroue weer die werkplek kan betree. Hier volg ‘n paar wenke om jou te help in jou voorbereiding vir die arbeidsmark:

Raak rekenaarvaardig
Jy kan dalk ’n voorslag met e-pos en Facebook wees, maar jou rekenaarvaardigheid moet verder as dit strek om ’n werk te verseker. Basiese rekenaarprogramme soos Word, PowerPoint en Excel is ’n vereiste, ook e-pos-programme soos Outlook as jy om ’n administratiewe pos wil aansoek doen.

Knap jou Twitter- en Facebook-kennis op
Hoewel dit universele sosiale netwerke is moet jy nie die waarde hiervan onderskat om bewusmaking van ’n produk te kry nie. Diè netwerke word ook gebruik om produkte en dienste te adverteer. As jy nie iemand het om jou touwys te maak nie, kan jy stap vir stap aanwysings op google kry – tik bv. “how to create profile on twitter” in.

Volg ‘n Kursus
Daar is ’n magdom korrespondensiekursusse wat jy kan doen om jou kwalifikasies te verbeter.

Jy wil nie geld bestee aan ’n kursus en dan agterkom dit is nie geskik vir die werk wat jy wil doen nie.. Baie maatskappye

bied indiensopleiding aan as jy nie die nodige vaardigheid het nie. Vind eers uit vóór jy jou sak vir ’n kursus skud.

Kry ’n voet in die deur
’n Pos by administratiewe- en oproepsentrums is gewoonlik die maklikste intreewerk omdat daar meer geleenthede in die soort werke beskikbaar is. Hierdie posisies word ook gewoonlik as ’n gulde geleentheid gesien om deel van ’n maatskappy te word.

HOE MAAK JY ’N KOPSKUIF

Verander jou houding
Maak seker dat jy jou met positiewe en realistiese mense omring. Praat met ’n mentor of buitestander en kry ’n realistieser beeld van jou tekortkominge.

Hou op om die slagoffer te wees
As jy jouself gedurig as die slagoffer sien, gaan jy nooit die geleenthede om jou raaksien nie. Geluk val nie gewoonlik in ’n mens se skoot nie. Sogenaamde “gelukkige” mense is gewoonlik gefokus om nuwe oplossings en geleenthede te soek.

Poets daardie silwer randjie
’n Positiewe houding kan aangeleer word. Dis ’n definitiewe keuse wat jy maak. As jy baie desperaat vir die werk is, kan jy angstig lyk. Lees oor ander mense se sukses vir inspirasie.

Moet nooit ná ’n paar terugslae tou opgooi nie. Henry Ford was vyf keer bankrot voor hy sukses met die Model T Ford gehad het.

Lyk professioneel
’n Netjiese voorkoms is baie belangrik. Dit hang natuurlik van die soort werk af, maar die algemene riglyne is: Hou by eenvoudige lyne en kleure en bly weg van ’n té kort soomlyn of ’n té lae hals. Hou by min bykomstighede. As jy om ’n baie kreatiewe werk aansoek doen, geld ander reëls.

Doen jou huiswerk
Google die maatskappy en kry hul jaarverslag van die Internet. Stel vas hoeveel takke hulle het, wie die kompetisie is en berei vrae voor. Maak seker jy weet presies waar die plek is en daag vroeg op sodat jy jouself rustig kan regkry. Dis onmoontlik om professioneel en verantwoordelik te lyk as jy natgesweet en laat by die plek inhardloop omdat jy verdwaal het, of in die verkeer vasgesit het.

Verkoop jouself
Jy was dalk die afgelope tien jaar ’n huisvrou, maar ’n huisvrou beskik oor vaardighede soos bestuur van ’n huishouding, tydsbeplanning, konflikhantering en onderhandeling. Gebruik dit as deel van jou ervaringsveld. Jy het dus baie vaardighede wat tot voordeel van enige maatskappy

aangewend kan word, hoewel jy nie in ’n kantoor gewerk het nie. Moenie sê jy het geen ervaring nie

’n Onderhoud kan jou maak of breek
Vaardighede is uiters belangrik en as jy om ’n hoogs gespesialiseerde werk aansoek doen, moet jy aan die minimum vereistes voldoen. Tog is daar baie ander aanstellings waar werkgewers bereid is om jou vir opleiding te stuur as jou persoonlikheid en selfvertroue jou van die ander kandidate onderskei.

Selfvertroue is nie persoonlikheid nie, en kan aangeleer word. Dit kan beslis jou geheime wapen wees as jy dit reg aanwend. Dis ’n gretigheid om te leer sowel as aan te pas. Namate ons ouer word, verloor ons maklik die geesdrif, nuuskierigheid en energie van ons jeug. Wend ’n bewuste poging aan om jou kop reg in te stel sodat die entoesiasme toeneem.

Gee jouself ’n klein aanmoedigingstoesprakie voor jy by ’n onderhoud instap en oortuig jouself dat jy dit kan doen. Motiveringsprekers raai mense aan om die eerste vyf minute van ’n toespraak geesdrif en selfvertroue te veins, daarna oortuig jy jouself. Dis ’n geval van “fake it till you make it”.

Verwerk uit https://www.rooirose.co.za

WOW Magazine – Women March 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search