Om aan te bou Piet se storie

En daar besluit Hennie se nuwe “anderhelfte” die tyd het nou aangebreek vir ‘n aanbouing – ‘n woonkamer, om presies te wees. Hennie het teëgestribbel, moontlike probleme ge-opper, maar die stelselmatige weerhouding van sekere regte het hom oortuig dat die aanbouing tog ‘n noodsaaklikheid is, baie beslis.

Die nypende tekort aan die nodige betaalmiddelle, dwing Hennie na ons, dis nou ek en ander Piet, toe vir kundige advies en sommer outydse raad. Ons besluit om die hele aangeleentheid na behore te bespreek, sluit die werkwinkel effe vroeg en onttrek na die naaste watergat, wat toevallig ook ons gunsteling plekkie is met ‘n niggie wat geen aanbouings nodig het nie: deeglik gerangskik en mooi afgewerk met die regte mates op die regte plekke in die regte verhoudings.

Na ‘n deeglike beplanningssessie, vertrek ons na Hennie se domicilium vir ‘n ondersoek ter plaatse. Ander Piet bekyk die gewel so met een oog effe toe en beveel aan dat Hennie nog ‘n geweltjie daar moet uittrek vir die woonkamer, so ongeveer 5 by 5 meter. Daar sal dalk ‘n struktuur of twee in die slag bly maar ons sal die probleem aanspreek soos en wanneer benodig. Ek tree die afstand af, nogal redelik haaks, slaan penne in en ons onttrek weer na die bakkie, opsoek na bouers.

Hoe lyk ‘n bouer? Is dit die man met ‘n suikersakkie vol troffels, dalk ook ‘n flenter kruiwa en dalk ‘n lang waterpas en twee grawe? Of is dit die man met die volgelaaide fiets met die dra-rakke voor en agter en ‘n gemodifiseerde Tjekkerstrollie agter aan? Of is dit die man met die afgeleefde Haailaksbakkie met die dra-rak, vol gelaai met kruiwaens, grawe, waterpasse, assistente, emmers, leë verfblikke en ‘n blou owerall.

Ons maak aantekeninge en onttrek weer na die watergat vir nog ‘n beplanningssessie. Die kandidate word onder die spreekwoordelike loep geneem en indringend bespreek. Tydens die bespreking, merk ons dat die man by die tafeltjie langs ons, aandag aan ons gesprek begin gee. Hennie terg hom eers en vra soos volg: “Wat luister jy? Wat weet jy?” Die man stel hom voor as Gert, Meesterbouer van Gauteng.

Ons besluit om hom ‘n spreekbeurt te gee en kom deeglik tot ander insigte en die hoofinsig is dat ‘n aanbouing deur ‘n kundige gedoen moet word, nie deur die man met die sakkie vol troffels of die man met die baaisiekel of die man met die bakkie nie.

Die doodkap is ondubbelsinnig duidelik: gebruik eksperte of los dit liewer.

WOW Magazine – Entertainment March 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search