Die geheime pyn van mans wat aan depressie ly

Vroue is dubbeld so geneig as mans om aan depressie te ly. Hoekom fokus ons dan op mans? Daar is baie redes, beide fisies en sosiaal, waarom vroue ‘n groter risiko as mans loop om hierdie geestesiekte te ontwikkel, maar kundiges stem saam dat meer mans lyers kan wees as wat voorheen gedink is.

Depressie word dikwels beskou as ‘n teken van swakheid, so sommige mans kan hulle gevoelens ontken en voortgaan ten spyte van die vernietigende simptome. Hul geheime pyn lyk dikwels meer na woede, ongevoeligheid of onttrekking as na hartseer of depressie. Mans is meer kwesbaar as wat hulle lyk: jong mans se depressie eindig dikwels met die dood. Mans tussen 18 en 24 is die hoogste selfdoodgroep in baie lande, sê die Suid-Afrikaanse depressie-en-angs-stoornisgroep (SADAG).

Mans is minder geneig om hulp te soek vir depressie Dit vat sommig mans jare of dekades om te erken hulle het hulp nodig. “Mans is deurgaans minder geneig om hulp te vra vir emosionele probleme en depressie,” sê Christine Lochner, ‘n kliniese sielkundige van die Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Angs- en Stressteurings. “Daar word aangevoer dat die sosiale norm van tradisionele manlikheid dit vir mans moeiliker maak om hulp te vra. As ons begin aanvaar dat mans behoeftes het, kan die aantal mans wat met depressie gediagnoseer word, toeneem.”

Man se depressiesimptome kan verskil Vroue wat aan depressie ly, is geneig om hartseer en angstig te voel. Daarenteen ervaar sommige mans depressie as ‘n konstante gevoel van woede. Ander kan hulle eenvoudig onttrek of so besig raak met werk en sosiale verpligtinge dat hulle nie tyd het om te voel nie. Werk kan vir mans van alle ouderdomme ‘n tweesnydende swaard word: dit bedek negatiewe emosies, maar dra terselfdertyd by tot spanning wat weer die depressie vererger.

Die verband tussen dwelmmisbruik en depressie is ‘n ander bose kringloop waarin mans onverhoeds kan vasloop. In sy boek I don’t want to talk about it: Overcoming the secret legacy of male depression (Newleaf), ondersoek die psigoterapeut Terrence Real die komplekse meganismes wat mans gebruik om depressiewe gevoelens weg te steek en te verdof in detail: “Navorsing dui daarop dat depressiewe mense die uitwerking van alkohol en ander dwelms sterker as niedepressiewe mense ervaar; hulle het ‘n groter verwagting dat sulke middels hulle sal help om beter te voel.”

Real haal ook ander navorsing aan wat sommige gevalle van depressie toeskryf aan die gevolge van oormatige hoeveelhede alkohol. ‘n Jong man drink met ander woorde om beter te voel, maar op die lange duur vererger dit net sy depressie.

Alkohol is geensins die enigste middel wat so gebruik word nie. ‘n Onlangse studie het getoon dat die langtermyngebruik van dagga ook kan bydra tot depressie. Hoekom een persoon jare lank alkohol of dwelms kan gebruik en niks daarvan oorkom nie terwyl ‘n ander depressief raak, is nie duidelik nie, maar dit is bekend dat sommige mense van nature meer geneig is om depressie te ontwikkel.

Die oorsake van depressie in mans Die oorsake van depressie sluit in genetiese geneigdheid, familie-agtergrond en ervarings soos die verlies aan geliefdes of blootstelling aan traumatiese gebeure. Sommige mediese toestande soos skildklierprobleme, Cushing se siekte en beroerte dra vermoedelik by tot depressie. Volgens die Geestesgesondheid Inligtingsentrum hou dit ook verband met die gebruik van medikasie soos steroïede en sommige hoëbloeddruktablette. Die resultaat is ‘n verandering in die chemiese vlakke in die brein.

Depressie word gewoonlik met ‘n drieledige benadering behandel: voorgeskrewe antidepressante in kombinasie met psigoterapie en selfhelptegnieke soos om by ‘n ondersteuningsgroep aan te sluit.

Antidepressante en hul newe-effekte Die nuwer antidepressante, selektiewe serotonien heropname inhibeerders (SRRI’s) soos Prozac, het minder newe-effekte in die meeste mense as sommige van die ouer vorme en is nie geneig om tot afhanklikheid te lei nie. Nogtans is daar moontlike newe-effekte en die een wat die wydste aangemeld word, is ‘n verlaagde libido. Dit affekteer nie almal wat SSRI’s gebruik nie, maar die blote idee sit party mans af. Depressie self kan egter ook ‘n gebrek aan belangstelling in die slaapkamer veroorsaak.
Ander newe-effekte van hierdie middels kan hoofpyn, verlies van eetlus, slapeloosheid, geïrriteerdheid en rugpyn insluit. Dit is egter nie toormiddels nie en werk soos al die medikasie beter vir party mense as vir ander.

Hoekom dit so belangrik is om professionele hulp te soek Soos met enige langdurige siekte, is dit vir die hele gesin stremmend om ‘n depressielyer in die huis te hê. Dit is belangrik om die probleem te erken en hulp te soek – nie net vir die depressiewe man nie, maar ook vir die mense om hom. Depressie loop in families en ‘n depressiewe tiener of jong volwassene bly dikwels saam met een of selfs twee ouers met soortgelyke probleme.

WOW Magazine – Men April 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search