Dokters, spesialiste, sielkundiges is ook net mense! Deur Lizelda Goslin

Dokters, sielkundiges, spesialiste en al die ander wat mediese beroepsrigtings gekies het, is uit die aard van hulle natuur, mense wat omgee en ʼn verskil in ander se lewens wil maak. Hierdie mense studeer vir jare om die beste kennis en kundigheid op te bou in hul beroepslyn, sodat hulle mense se lewens of kwaliteit van lewe kan red. Maar ongelukkig is daar ʼn groot prys wat hierdie mense betaal om hul beroep te beoefen

 

By die 2018 Amerikaanse Assosiasie vir Psigiatrie was dit bekend gemaak dat die selfmoord statistiek vir dokters 28 tot 40 per 100 000 mense is, wat meer as dubbel die selfdoodsyfer is van enige ander beroep. Hierdie navorsing van Deepika Tanwar (MD by Harlem Hospital Center, New York City) het selfs gewys dat die selfmoordsyfers van dokters wêreldwyd hoër is as die van militêre beroepe, wat as meer stresvol gesien word. Dus is die mediese beroepe die wat van die hoogste uitbranding, depressie en angssyfers het as ander beroepe.

Om wel ʼn bietjie empatie vir jou dokter, sielkundige, spesialis of ander mediese persoon te hê, is dit nodig om jouself vir ʼn oomblik in hul skoene en wêreld te plaas. Dokters en sielkundiges fokus vir ure aaneen op ander se fisiese en emosionele gesondheid en sal hul eie emosies en gesondheid ignoreer om vir hul pasiënte daar te wees. Om daagliks, vir ure aaneen te luister na mense se emosionele of fisiese pyn, begrip te hê vir mense se drama en trauma, om hulle magteloosheid en hopeloosheid met hul liggaam of omstandighede te verstaan en dan verantwoordelikheid te hê om oplossings te gee en beterskap te probeer bewerkstelling, is uitputtend. Die motiverende dryf van die dokter of sielkundige is wel die verligting en gevoel van dankbaarheid en bevrediging indien die ingryping wel ʼn verskil gemaak het.

Almal in die mediese professies het verhale van traumatiese situasies wat hulle gesien en beleef het, en of dit ‘n kind is wat die dokter wou red, maar nie kon nie en of dit ʼn sielkundige was wat ‘n pasiënt aan selfdood verloor het. Hoewel hierdie mense geleer het om moeilike situasies emosioneel te hanteer, is daar steeds egter gevoelens van trauma, moedeloosheid, hartseer en hopeloosheid wat die mense ook ervaar.

Een van die redes van die hoë selfdood syfers onder dokters is omdat hulle te blootgestel voel om hulp te kry wanneer dit sleg met hul gaan. Hulle voel die verwagting van die gemeenskap is dat hulle altyd hoog funksionerend moet wees en alles onder beheer moet hê. Ongelukkig is dit dan, dat wanneer dit emosioneel sleg gaan met of hoe meer uitgebrand of angstig hulle is, hoe meer kom hulle afgestomp en geïrriteerd oor en hulle raak haastig met hul pasiënte, want hulle het nie die krag om die ekstra myl te loop nie.

So… as pasiënt, wat kan jy doen om jou dokter, sielkundige of spesialis se lewe bietjie beter te maak? Besef dat as hulle nie aan al jou verwagtinge kan voldoen nie, hulle net mense is en vergewe hulle, maar indien jy werklik ongelukkig is oor iets, bespreek dit met hulle voor jy hulle naam beswadder. Positiewe terugvoer is altyd ‘n salfie vir die siel, en as dit goed gaan laat weet die dokter soms. Dokters en sielkundiges se privaattyd is kosbaar, want vir daardie paar uur herlaai hulle deur om nie van hulself uit te gee nie, respekteer dit, maar weet ook met werklike krisisse sal hulle kies om, soos altyd, te help! Verdra dit dat hulle met vakansie gaan of lang naweke vat, dit is een van die nagevorste aanbevelings vir professionele persone om effektief te herlaai om die beste vir jou te kan gee!

WOW Magazine – Living April 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search