Hou ‘n ogie oor jou oë

Jou sig is kosbaar en jou oë onvervangbaar, daarom is goeie oogsorg vir die instandhouding van gesonde visie baie belangrik.

Dit is deesdae baie maklik om self gesondheidskwessies te diagnoseer deur ʼn vinnige soektog op die internet maar dit kan jou sig duur te staan kom.

Van die algemeenste foute wat mense maak rakende oogsorg is die dra van verkeerde voorskrifkontaklense, die koop van leesbrille oor die toonbank en die oormatige gebruik van oogdruppels.

Die wortel van die kwaad is mense se geneigdheid om ‘n besoek aan die oogkundige te vermy wanneer hulle probleme met hul sig of oë het. Jou oogkundige sal jou oë evalueer om die onderliggende probleme vas te stel en die nodige behandeling vasstel. Jou simptome kan so vinniger iets van die verlede wees as wat jy self behandeling probeer toepas. Dit is ook beter vir die langtermyngesondheid van jou oë en die kwaliteit van jou sig.

Daar is ‘n paar algemene foute wat mense maak rakende oogsorg:
• Dra van die verkeerde voorskrifkontaklense
Dit is uiters belangrik dat die kornea behoorlik gemeet moet word om sodoende die regte kontaklense voor te skryf wat behoorlik op die oë pas. Indien jy die verkeerde lense dra, kan dit erge ongemak tot gevolg hê. Indien die lens te styf op die oog is, kan dit ook tot gevolg hê dat die kornea nie die nodige voeding van natuurlike trane kry nie, wat tot irritasie en versteurde visie kan lei.

• Versuim om oë gereeld te laat ondersoek
Indien jy ‘n voorskrifbril- of -kontaklense dra, moet jy gereeld jou oë laat toets. Indien jou bril nie meer behoorlik pas nie of jou oë verbeter of versleg het en jy eintlik ‘n ander bril of ander lense moet kry, kan dit tot gevolg hê dat jy duiseligheid, hoofpyne en versteurde visie ervaar.

Gereelde professionele oogtoetse is die effektiefste manier om te verseker daar is geen onderliggende probleme nie.

• Die gebruik van leesbrille wat oor die toonbank gekoop word
Leesbrille wat sommer oor die toonbank gekoop word, kan tydelik help met probleme soos om die spyskaart by die restaurant behoorlik te kan lees, maar dit kan ook langtermynskade aanrig. Dié tipe brille word grootskaals vervaardig en kan lei tot oogstremming of dubbelvisie by sommige mense. Hulle kan ook verdere risiko’s tot gevolg hê indien daar onderliggende probleme soos versiendheid of astigmatisme, is.

• Die oormatige gebruik van oogdruppels
Indien oogdruppels nie deur ‘n professionele gesondheidsorgverskaffer voorgeskryf word nie kan dit risiko’s inhou indien die verkeerde druppels gebruik word of te veel gebruik word. Oogdruppels kan veroorsaak dat die buitenste bloedvate in die wit van die oë krimp om rooiheid te verminder. Terselfdertyd droog dit die oë uit. Kort voor lank is die rooi oë terug en word nog druppels gebruik en word dit ‘n bose kringloop. Die langdurige gebruik van die verkeerde oogdruppels wat steroïede bevat, kan lei tot gloukoom, wat lei tot verlies van visie. Bron: https://www.dynamicvisionsa.co.za

WOW Magazine – Living April 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search