Om seer te hê Piet se storie

Hennie voel nie lekker nie. Dis duidelik te lese op sy gesig, in sy stap, in sy sit en in sy totale menswees. Praat wil hy nie praat nie. Op navraag sal hy net sê: “Ek is oraait” Maar, die standaard van sy herstelwerk gaan agteruit, die rêdiehaitors wat hy regmaak, bly lek. As mens, raak hy nukkerig (eintlik bedônnerd) en Ander Piet besluit om die saak aan te spreek.

Daar word ‘n vergadering onder die boom, weg van die werkswinkel af, buite hoorafstand van almal, sonder bedwelmende versnapperinge, belê.

Ander Piet voor aan”Vra weer vir Hennie wat fout is maar Hennie skop vas en sê: “Daar is nie blêrrie fout nie. Hou op neuk!!!!” Ander Piet, die senior in die groep en leier, erg hom en spreek Hennie kwaai aan. Sê onder andere dat as dit sy houding gaan wees moet hy maar sy toels skoonmaak, inhandig en vertrek. Dit was so al asof die woord “TOOLS” vir Hennie tref, tussen die oë. Ek sien dit raak en praat mooi en vra, met broederlike empatie, “Hennie, wat is fout?”

So tussen die trane deur wat vrylik vloei, breek Hennie se weerstand en dit kom uit dat hy DAAR ‘n probleem het, ‘n groot probleem, in die spreekwoordelike toolbox. Synde hierdie ‘n gesinstydskrif is, gaan ons nie op meer detail nie. Ons bespreek die geval, maak somme en besluit dat Hennie na die heel beste dokter toe moet gaan. Alles word gereël en ek en Ander Piet sit die middag na die afspraak onder boom en wag.

Hennie daag op, in trane.Hy sê die dokter sê al wat sal help is afsit.

Daardie geskokte stilte sal my lank bybly. Ander Piet besluit ons moet onmiddellik opskepklub toe vir morele ondersteuning. Daar gekom gons die selfone: nog navrae word gedoen, somme word weer gemaak, bankbestuurders word gebel want, hêl man, Hennie is ons Pêl.

Die volgende oggend, daar onder boom op die plot, kom die antwoorde in. Daar is mediese hulp, maar hoofsaaklik oorsee maar ons somme kan nie ‘n oorsese trippie bekostig nie. Twee dae later is daar ‘n lig in die tonnel (want daar was nie beurtkrag nie). Iemand laat weet ons van ‘n Chinese medikus hier in ons dorp wat in die probleem spesialiseer, en hy is nie so duur nie. Al die reëlings word getref en Hennie gaan besoek hom.

Sal ek ooit daardie gesig vergeet toe Hennie na net ‘n halfuur terugkom met die boodskap: “Die Chinees sê hy hoef niks af te sit nie.” Net toe ek en Ander Piet wil begin feesvier, snik Hennie hartroerend: “Ja, hy sê dit sal sommer vanself afval!!!”

WOW Magazine – Entertainment April 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search