Tuintake April 2019

Met die laaste dae van somer en die heerlike reën oor ons gebied, is dit nou ‘n goeie tyd om nuwe bedding te maak en die grond goed te bemes. Saai dit vol eenjariges wat in die winter sal blom en maak seker jou groentetuin is propvol heerlike sopbestanddele vir die koue aande voor die televisiestel.

Treffende herfstuine
Maak ‘n draai by jou gunsteling kwekery vir bolle.  Kies inheemste soorte soos ixias, freesias, fluweeltjies, tjienkerientjees, kalkoentjies en bobbejaantjies.

Voed jou plante
Gee asaleas, kamelias, teebossies en rose ‘n handvol 3:1:5 elk of kies organiese Wonder Rose.  Gee jou grasperk nou bo-bemesting terwyl dit nog warm genoeg is dat die gras daardeur sal groei en die voedingstowwe kan opneem.

Heerlike groente
Fokus op die aanplant van blaargroente soos die verskillende soorte slaai en Oosterse groente soos pak choi, mizuna en mosterd.  Hulle groei pragtig in die winter en jy kan daagliks daarvan pluk vir sop, roerbraai en winterslaaie.  Saai kool, blomkool en broccoli en voed met stikstofryke kunsmis.  Tussenin plant jy skerpgegeurde kruie soos grasuie om plae soos wit koolmot te keer.

Verryk jou grond
Verryk die grond nou met goeie kompos gemeng met geswete kraalmis.  As jy kraalmis in grootmaat koop, vra die verskaffer of dit gesweet is, of laat dit sowat twee weke lê voor jy dit by die grond inwerk.  Sodoende maak jy seker dat daar nie onkruid in jou beddings opkom nie.  Laat die grond lê en rus voor jy plant, indien moonlik.

Aromatiese kruie
Oes steeds die laaste kruie en bêre vir kruietee of om gedroog in jou kos te gebruik. Hang bossies kruie onderstebo in ‘n droë plek om te lugdroog en verkieslik met papiersakkies oor die bossies gebind om die insekte weg te hou.  As jy ‘n oormaat kruie het, kan jy die blare kap en in afgekoelde gekookte water in ysbakkies vries.  Merk die vriesbakkies met ‘n plakkertjie, want gekapte kruie is moeilik om te identifiseer.

Fleurige blomplante
Raak ontslae van treurige plante, eenjariges sowel as meerjariges.  Plant nou nuwe meerjarige struike in jou nuwe beddings.  Hulle sal mooi vestig deur die winter en jou in die lente beloon.  Onthou om jong plante teen ryp te beskerm.  Dis ook die ideale tyd om winterblommende eenjarige saailinge te plant, soos gesiggies, wat ook eetbare blomme is.

Wenk vir die maand: 
Het jy weer lastige slakke in die tuin?  Plaas hopies slakgif op koel, klam plekke.  Wissels handelsmerke af sodat die slakke nie immuun raak teen ‘n bepaalde soort nie.

Die koeler weer in April maak jou meer energiek vir die voorbereiding van die wintertuin en die groot taak van skoonmaak en plant.  Ons volgnede uitgawe fokus op die beste maniere om jou wintertuin tot sy volle glorie te ontwikkel.

Aangepas uit: www.tuis.co.za

WOW Magazine – Living April 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search