Om ver te kan sien Piet se storie

So kom ek nou een oggend daar op die plot aan, bietjie later omdat ek eers poskantoor toe moes gaan, net betyds om Hennie te hoor sê: “Ongelooflik, manjefiek (en ek hou asem op vir: “fantasmagories”), maar gelukkig kom die een nie.Ek wonder wat aangaan en ek luister nie af nie, ek staan net agter die appelkoosboom binne hoorafstand.

En daar kom ek agter die gesprek handel oor Nampo en dis Hennie en Ander Piet in gesprek oor ‘n projek vir die landboutentoonstelling. Gereelde lesers sal onthou dat ons drie verlede jaar die “lêwwie opi treiler” geloods het toe ons die mobiele toilet beskikbaar gestel het langs die lang toue motors wat elke jaar elke dag kilometers ver opdam om by die hekke te kan inkom. Dit projek het goeie dividende gelewer maar toe ons nou die dag spêrs by ‘n skrêpjaart in Bothaville gaan koop, sien ons daar word fasiliteite langs die pad opgerig.

Dis toe dat Ander Piet begin dink en hy onderhandel met die hoofde van Nampo en hy kry wragtig toestemming om die lêwwie opi treiler in die terrein te gebruik. Dis nou op die beplanningsvergadering waar ek instap.“Om die ding te laat werk moet dit netjies, skoon, lanie en sonder ‘n beduidenis van ‘n klankie wees” sê ek. Die ander twee stem saam.

Die beplanning begin in alle erns. Die gedagte is dat die gerief volgelaai word en dan op ‘n begeleide toer deur Nampopark vertrek met lopende kommentaar oor die uitstallings langs die pad, terwyl die nodige aksies afgehandel word. Om te kan sien, moet die buitevensters eenrigting wees. Hennie is lekker laf en hy stel ‘n romantiese twoseater voor, met so ‘n delikate lae afskortinkie tussen die twee stelle agterstewes.

Ons beplan, saam met die twoseater, so twaalf sitplekke wat teen R20 per sit so net duskant R300 per vrag sal oplewer en daar hardloop die somme heeltemal weg en ons droom drome en begin onmiddellik met die konstruksie. Ek is voluit in die projek, maar net soms wonder ek of my gedagte van gekleurde groenmielies, nie dalk ook kon werk nie. My idee is dat die mieliekoppe in verskillende kleure gedaai word na hulle in die blare gaargemaak is. Ek dink kindertjies sou dalk van die bontspul hou, maar nou sal ons nooit weet nie.

Geniet Nampo en kom geniet die behaaglike rit in die “Room with a view”.

WOW Magazine – Entertainment May 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search