Ontrommel jou lewe Deur Lizelda Goslin

Meeste van ons ervaar dat die lewe ʼn gejaag na wind is, maar buiten dit, is ons lewens ook propvol dinge wat eintlik nie daar hoort nie. Dit is ons huis, kaste, dagboek, take en mense… orals is daar soms te veel dinge en dit is dinge wat ons lewe vol rommel (“clutter”) maak.

Dit is gewoonlik aan die begin van die jaar dat ons ʼn nuwe begin wil maak en dinge wil uitsorteer, maar enige tyd van die jaar, enige dag, is die regte tyd om jou lewe en die verskillende fasette daarvan te bevry van al die “clutter”. Dit is nie net in ons huise waar ons opgaar nie, maar ook in ons gewoontes en die mense met wie ons omgaan. Volgens Kate Emmerson het ons drie soorte rommel in ons lewens: 1) Fisieke rommel is die tasbare dinge wat ons in ons fisieke wêreld kan sien, aanraak en voel. 2) Liggaamsrommel is enigiets wat jou van jou woema en lewenslus ontneem. 3) Emosionele rommel is alles wat emosionele bagasie is, wat ons saam dra. In haar boek “Ruim jou rommel op” maan Kate al drie hierdie soorte rommel, “neem plek in jou kop, emosies en geesteslewe in beslag en ondermyn so jou energie, gedagtes en tyd. Dit belemmer jou vermoë om verantwoordelikheid vir jou lewe te aanvaar, goed oor jou liggaam te voel en die gemors in jou lewe reg te maak.”

Jou fisieke rommel… al die dinge wat orals in jou huis staan, uit plek is of opgehoop is, lei tot ‘n deurmekaar gevoel, frustrasie, woede en onproduktiwiteit . Verder maak so ʼn huis wat vol “clutter” is, jou angstig, want jy voel elke dag net al hoe meer skuldig omdat jy nie die probleem takel nie. Hierdie huis-rommel beheer jóú, omdat jy dit nie beheer nie. Die redes waarom meeste mense nie die huis wil uitsorteer nie, is die moegheidsvlakke wat te hoog is en die energievlakke wat te laag is, tesame met die gevoel van oorweldiging van alles… daarom word dit gelos.

Die raad wat jy seker al vele kere gehoor het, en dalk nie volg nie, is: “begin klein”. Dit is egter van die mees effektiefste raad – al pak jy ook net vandag jou bedkassie reg. Selfs so min soos ’n daaglikse uitsorteersessie van twintig minute maak ’n verskil. Breek assosiasies! Ja, dit was jou oorlede ma se kas, maar dit staan die vertrek vol en pas nie in nie, so neem ʼn foto en spaar dit in ʼn herinneringe lêer op jou foon en laat die kas gaan. Verder moet jy jouself afvra of het jy die item in die laaste 2 tot 5 jaar gebruik, indien nie… laat dit gaan, want die waarskynlikheid dat jy dit in die volgende 2 tot 5 jaar gaan gebruik is baie skraal (al het jy sakke vol geld daarvoor betaal.

Om van jou emosionele rommel ontslae te raak, begin deur toksiese mense en situasies uit jou lewe te verwyder, sê Alex Lluch, skrywer van Secrets to Love Life and Be Happy. Dit sal moed verg, maar jy gaan soveel beter voel as jy kan fokus op die mense en dinge wat jou waarlik gelukkig maak. Verruil leë sinlose tydverdrywe met vervullende aktiwiteite soos om aanlyn video’s, met inspirerende of leersame praatjies te vervang (byvoorbeeld om in te skakel op “TED talks”), verruil nuusberigte vir opbouende artikels in tydskrifte. Verruil die konstante boodskappies stuur op Whatapp, met ʼn sinvolle telefoongesprek waar diepte en emosie oorgedra kan word.

Die antwoord om van liggaamsrommel ontslae te raak is reeds bekend aan meeste van ons…ons weet ons moet die sjokolade, gemorskos en kitskosse uitgooi en begin oefen en gesonder eet. Die probleem is egter dat ʼn persoon altyd verskonings maak hoekom ʼn gesonde lewenstyl moeilik sou wees, beperkte tyd, geld, energie, ensovoorts. Die waarheid is egter dat indien ons ons lewenskwaliteit wil verbeter, ons gefokus kan wees en planne kan maak. Doen dit net!

WOW Magazine – Living May 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search