Tuintake Mei 2019

Ons gaan nou die laaste gedeelte van herfs binne en die winter is so te sê om die draai.  Dit is nou ‘n goeie tyd om ernstig aandag te begin gee om rypsensitieweplante teen die koue te beskerm.

Probeer onthou wat laas winter ‘n knou uit die koue gekry het. Die pragtige Strelitzia reginae (kraanvoëlblom) met sy eksotiese voorkoms, Cocos palms, varings, Brunfelsias of Bougainville in die pot moet met ekstra sorg gehandel te word om te verseker day hulle in die Lente dadelik mooi is.

‘Wilf Pruf’ is ‘n produk wat verlepping baie effektief teenwerk.  Spuit dit op al jou rypsensitiewe plante. Vir ekstra beskerming moet jy jou plante met rypdoek toemaak.

Saai nou
Saai nog vir oulaas die laaste bokbaaivygies, heuningblomme, Skotse gousblomme, nemesias, koringblomme en Virginiese vilette.  Ou gunstelinge soos Petunias, Primula, gesiggies en pronkertjies is nou by kwekerye beskikbaar.

Voed nou
Winterblommende jaarplante moet elke twee weke met ’n wateroplosbare misstof gevoed word. Dit sal baie blomme en gesonde groei tot gevolg hê.

Jou grasperk
Immergroen grasperke en skadugras moet gereeld natgelei word.

Plae en probleme

  • Hou aan om jou konifere teen die Italiaanse sipresluis te behandel.
  • Verwilder plantluise op plante en wintergroente soos kool met ’n sterk straal water.
  • Slakke begin nou soek na winterverblyf onder tuinpotte en los plaveiblokke, tussen digte polle meerjariges en tussen klippe. Gereelde inspeksie om hierdie wegkruipplekke op te spoor en slakvry te maak gaan jou sagte winterplantjies veilig hou.

Nóg werk in die tuin

  • Rose wat nie goed vaar nie omdat hulle dalk in die skadu van omringende plante of in swak dreinerende en gekompakteerde grond groei, kan uitgehaal en oorgeplant word op beter groeiplekke.
  • Dis jou laaste kans om meerjariges soos asters, physostegias en penstemons terug te knip.
  • Lilium-bolle is nou beskikbaar. Plant hulle dadelik nadat jy hulle aangeskaf het. Die plantdiepte is dubbel die breedte van die bol.
  • Sny dahlias heeltemal terug en lig die risome. Bestuif dit met ’n funguspoeier en bêre op ’n koel en droë plek.
  • Sny kannas terug tot op grond­vlak en plaas die ou blare en blomstele oor die grond om die ondergrondse risome teen die winterkoue te beskerm.

Dit is nie al wat jy in Mei kan doen nie; enige geharde bome of struike wat verskuif moet word kan nou ‘n nuwe plekkie inneem.  Onthou om die plant se kant wat noord gewys het weer so te plant – merk dit met ‘n plakker op ‘n blaar of stukkie tou.

Jy kan nou aansienlik minder water aan jou tuin gee.  Elke tweede dag en net genoeg om die grond klam te hou. Moet ook nie te min water gee nie.  Gaan op gevoel, soos jy sommige wintersdae warmer aantrek en op ander weer koeler klere aantrek, so moet jou tuin ook in warmer periode meet water kry.

Met die opruimslag van jou tuin kan jy al die blare en takke gebruik om ‘n komposhoop te begin.  Dit sal in die lente goed benut word.

WOW Magazine – Living May 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search