Tuintake Junie 2019

Geniet jou winter in die tuin – dis ‘n tyd van refleksie, nabetragting, hergroepering of sommer net hiberneer. Laat jou siel en liggaam saam met die seisoen rus en hou jou wintertuin lewendig deur ook aandag te gee aan tuinpaadjies, grasperke en rotstuine.

Blomtuine
• Struike wat gedurende die winter en lente blom kan nou geplant word, asook inheemse bome. Kyk dat jong bome en standaard struike stewig geanker is teen wind.
• Struike wat gedurende die somer blom kan nou teruggesnoei word, bv. Abelia, Hibiscus, Bougainvillea, Solanum, Vuurdoring en Cotoneaster. Bladwisselende struike soos Weigelia, Viburnum en Prunus moet eers gesnoei word as hulle klaar geblom het in die lente.
• Hardehout steggies kan van bome, struike en rankplante geneem word.
• Gebruik blare wat afval vir kompos of plaas as ‘n deklaag oor beddings. Voed plante en struike wat in die winter blom nou met 3:1:5 of organiese bemesting.

Siektes
Kyk uit vir skaal op rose, spuit stam en benat grond met kalkswael. Wolluis is veral aktief op struike en bome wat bladhoudend is. Behandel dit met ‘n sistemiese insekdoder by die stamme van plante – dit geld ook vir die Italiaanse Sipresluis op konifere. Op kruie/eetbare plante, bv. roosmaryn moet die aanbevole dosis en voorskrif streng toegepas word. Kyk uit vir meeldou en vang slakke na die reën!

Plant nou
• Saailinge van Allysums, viooltjies, Violas, Primulas, Nicotianas, Impatiens, Mimulus en Petunias.
• Bolle: Lilium, Amaryllis, Watsonia vir kleur in laat lente. Voed bolle tweeweekliks sodra die blare verskyn. Agapanthus, Clivias en Dietes kan nou nog uitgehaal en verdeel word.
• Pronkertjies kan nou nog geplant word. Plaas die saad oornag tussen verskillende lae watte natgemaak met louwarm water, en plant met heelwat kompos.

Groentetuin
Saai kool,broccoli, blomkool,spinasie, wortels, preie, blaarslaai, ertjies, radys en rape vir die beste resultate. Sny basielkruid, roosmaryn, tiemie en lourier terug en dit is raadsaam om lokaas vir vrugtevlieë uit te sit. Maak seker die snoeiskêr is gediens vir snoei van wingerde en vrugtebome later vandeesmaand. Spuit na snoei met kalkswael en bedek groot “wonde” met Treeseal.

Wenk vir die maand
Probeer voordelige kombinasies in jou groentetuin soos wortels en preie wat uitstekende plantmaats is. Preie weerhou wortelvlieg en wortels weerhou uievlieg en preiemot. Aspersies weerhou nematodes om tamatieplante se wortels aan te val. Insekte hou nie van koljander nie en dit kan gebruik word in ‘n natuurlike spuitmiddel teen rooispinmyt. Knoffel verjaag ook insekte en is ‘n goeie plantmaat vir rose.

WOW Magazine – Living June 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search