HOKAAI VOOR JY UITBRAND

Uitbranding weens jou werk is nie net moegheid nie, en dit is baie erger as die gewone stres wat met elke dag se werk gepaardgaan. Uitbranding word gekenmerk deur chroniese moegheid en sterk gevoelens van frustrasie en kragteloosheid. Mense wat aan uitbranding ly, is geneig om hulle emosioneel aan hulle werk te onttrek, hulle motivering te verloor en minder produktief te wees. Studies verbind uitbranding ook met talle emosionele en fisiese gesondheidsprobleme.

Waardeur word uitbranding veroorsaak? Te veel werk speel dikwels ’n rol. Weens ekonomiese druk dring party werkgewers daarop aan dat werknemers langer ure werk, soms vir minder geld. Weens tegnologie kan party mense nou te eniger tyd met werksake bereik word, wat die skeidslyn tussen hulle werk en privaat lewe onduidelik maak. Party ly aan uitbranding omdat hulle bang is dat hulle hulle werk sal verloor, geen beheer oor hulle werk het nie of meen dat hulle onregverdig behandel word. Onsekerheid oor wat voorkeur moet geniet by die werk of konflikte met werksmaats dra ook daartoe by.

Uitbranding kan ook te wyte wees aan ’n mens se eie optrede. In die strewe om loopbaandoelwitte te bereik en meer te verdien, probeer party al hoe meer werk in hulle rooster inpas. Hulle aanvaar dalk meer werk as wat hulle kan baasraak en kan later aan uitbranding begin ly.

Hoe kan jy herstel as jy weens jou werk aan uitbranding ly? Dit kan weliswaar lyk of verandering onmoontlik is as jy vasgevang voel in omstandighede buite jou beheer. Maar kyk na die volgende stappe wat jy kan neem as jy aan uitbranding ly. Jy kan dalk meer doen as wat jy besef.

BESLUIT WAT VIR JOU BELANGRIK IS.
Wat is vir jou die belangrikste? Baie mense sal waarskynlik gesinsverhoudings en goeie gesondheid boaan hulle lys plaas. Hierdie dinge sal waarskynlik daaronder ly as jy jou uitbrand.

Duidelikheid oor wat vir jou belangrik is, sal jou help wanneer jy moeilike besluite moet neem en soms iets moet prysgee. Byvoorbeeld, jy besef dalk dat jy weens jou werk uitbranding in die gesig staar. Maar jy redeneer miskien: ‘Ek kan nie van werk verander of minder werk nie; ek het die geld nodig!’ Almal het weliswaar geld nodig, maar hoeveel het jy werklik nodig, en wat sal jy moet inboet wanneer dit kom by wat vir jou die belangrikste is?

VEREENVOUDIG JOU LEWE.
Om stres te verminder en tyd te kry vir wat vir jou werklik belangrik is, kan jy dit oorweeg om minder ure te werk, jou werkgewer probeer oorreed om jou werklas te verminder of besluit om van werk te verander. Ongeag wat jy besluit, jou finansiële situasie sal waarskynlik verander en jy sal jou lewenstyl moet aanpas. Maar dit is nie onmoontlik nie en is dalk nie so moeilik as wat jy dink nie.

LEER OM NEE TE SÊ
As jou werklas te groot is of jy met ’n ander voortslepende probleem by die werk te kampe het, moet jy jou situasie met jou werkgewer bespreek. Waar moontlik, kan jy oplossings voorstel wat vir jou sowel as jou werkgewer voordelig sal wees. Dink vooruit en wees realisties. As jy minder ure wil werk, sal jou werkgewer dalk verwag dat jy minder vergoeding aanvaar. Onthou dat dit makliker is om ander werk te kry terwyl jy nog by iemand in diens is.

RUS EN HERLAAI
Selfs as jy nie groot probleme by die werk het nie, het jy dalk nog steeds met stres, moeilike mense en onaangename situasies te kampe. Ruim dus tyd in om genoeg te rus en gebalanseerde ontspanning te geniet. Onthou dat ontspanning nie duur hoef te wees om jou en jou gesin te verkwik nie. Kweek belangstellings en vriendskappe aan wat nie met jou werk verband hou nie, en moenie jou waarde bepaal volgens die soort en hoeveelheid werk wat jy doen nie. Die boek Your Money or Your Life sê: “Wie jy is, is baie belangriker as wat jy doen om geld te verdien.” As dit hoofsaaklik jou werk is wat bepaal wie jy is en hoe jy oor jouself voel, sal dit vir jou moeilik wees om jou werk ’n kleiner rol in jou lewe te laat speel.

Verwerk uit www.jw.org

WOW Magazine – Living June 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search