Om ‘n spiertier te wil word Piet se storie

Toe ek en Ander Piet klaar oggendkoffie geniet het, kom ons agter Hennie is lankal uit die Lapa uit. By verdere ondersoek, merk ons hom by die skrêphoop op. Hy tel op, bekyk, gooi neer, tel weer op, meet en pas en soek verder.

Ons besef daar is weer iets aan die broei en omdat ons vir Hennie baie goed ken, weet ons dit gaan baie geduld en oorreding verg om die storie uit hom uit te kry. Dus besluit ons gesamentlik en individueel om te wag tot hy praat. En het ons nie gewag nie!! Drie dae later drink hy uiteindelik weer saam met ons koffie en daar lê ‘n hoop ysters by sy werkstasie.

Ander Piet, die ewige diplomaat, verneem versigtig wat die doel van die versameling ysters is sommer so terloops meld hy ook dat daar drie rêdiaters is wat herstel moet word.“V*&%#@ die rêdiaters” bars Hennie uit en ek en Piet reageer beide met skok. Daar word nie so gepraat nie, nie daar waar ons daagliks mekaar se lief en leed deel nie.

Ander Piet trek Hennie aan sy lang bolip nader met die draadtang en sis dit uit:”Nou wat is jou eintlike probleem?” Hy moet eers die tang laat skiet voordat Hennie kan praat, en toe kom die stortvloed woorde, gemeng het sulke lang krokodiltrane.

Ek sal die leser liewer die detail spaar, maar dit kom daarop neer dat sy vrou vir hom gesê het, nadat so ‘n jong knapie wat sy kuite meer as drie bar pomp verbystap, dat hy wat Hennie is nie kuite gekry het nie – net die paal waaraan die kuite gehang is met die uitdeelslag.

Hennie snik hartroerend en wil weet wat is baaisêps wat sy het iets daaroor ook te sê gehad en nou gaan hy ‘n gym bou en oefen tot hy kuite het en daardie ander koebaaiseptikels goed ook.

Ons ontsien die huisreëls en gebruik al drie ietsie ligs, net om ons almal se senuwesens te kalmeer en toe hou ons beraad. Een oproep later toe kan ons vir Hennie vertel dat biceps eintlik bo-arm spiere is en Ander Piet beweer dat dit die maklikste spier is om te bou.

Ons spring dadelik aan die werk en bou ‘n oefenstang met driekwartduim pyp en twee verfblikke wat ons met beton vul en Hennie kry die opdrag om driekeer ‘n dag die gewig twintig keer te gebruik: reguit arms met die hande na bo en krul dan die arms na bo.

Vir die kuite bou ons iets wat lyk soos ‘n juk vir ‘n os wat om die nek kom met ’n ketting aan. Onder aan is ‘n ploegskottel met klippe. Hennie moet met sy tone op twee bakstene staan, die ketting moet styf trek en dan lig hy hom op met sy tone, so hoog soos hy kan: ten minste twintig herhalings, driekeer ‘n dag.

Die vraag is nou, liewe leser, het dit gewerk?

Ek weet nie regtig nie. Dit was dalk al die warmsalfies was sy op die seer spiere moes vryf en maseer, want die tweetjies koer nou weer vir mekaar en Hennie is steeds kuit en baaisêploos!!

WOW Magazine – Entertainment June 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search