‘n Padkaart na emosionele balans. Deur Lizelda Goslin

In ons lewens is daar so baie dinge wat ons moet balanseer, werk versus huis, inkomste versus uitgawes, pret versus verantwoordelikhede, ensovoorts. Om ‘n persoon se lewe uit te balanseer is soveel moeiliker as jy as persoon nie self redelik in balans is nie, want dan oorweldig alles sommer ‘n mens net makliker. Daar is verskeie opinies oor watter komponente nodig is vir emosionele balans, maar die drie wat uitstaan, en ‘n direkte effek op mekaar het is: gedagtes, lewensstyl en die fisiese.

1. Gedagtes. Daar is al soveel geskryf oor hoe belangrik gedagtes is om meer gelukkig te wees, maar waarom is die onderwerp steeds nie holrug gery nie? Navorsing het oor en oor bewys dat dit nie die omstandighede of situasies is wat jou gevoelens veroorsaak nie, maar hoe jy die situasies interpreteer of daaroor dink. ‘n Voorbeeld is dat indien iemand verby jou stap sonder om te groet, kan dit wees dat die persoon kwaad vir jou is, of miskien het die persoon jou nie gesien nie. Die interpretasie wat jy kies, sal jou of ongelukkig maak, of aan die ander kant sal dit jou nie pla nie. Gedagtes veroorsaak gevoelens, so sal ‘n negatiewe, kritiserende, afkrakende, angstige gedagtes, angs, depressie, woede, ‘n slegte selfbeeld, ongelukkigheid, sal soveel meer slegte emosies sneller, maar beter, opbouende en “moed inpraat” gedagtes veroorsaak rustigheid, kalmte, moed en tevredenheid.

2. Lewenstyl omvat alles wat jy doen en hoe jy jou dag volmaak van die oomblik wat jy jou oë in die oggend oopmaak totdat jy gaan slaap. Daar is ‘n paar faktore wat in elke persoon se dag; of ten minste in hul week behoort te wees om hul lewenstyl in balans te hou: Sinvolheid, pret, vervulling, doelwitbereiking, positiewe interaksie met mense en ritme of roetine. Indien jou lewe leeg is en elke dag is net ‘n oorlewingstryd, is dit jou verantwoordelikheid om iets aan jou dag tot dag bestaan te doen om die lewe darem vir jouself beter te maak.

3. Die fisiese deel van emosionele balans lê hoofsaaklik in jou brein se neurotransmitters en jou liggaam se gesonde funksionering. Emosies soos aggressie, irritasie en angs word deur adrenalien versoorsaak, terwyl seratonien verantwoordelik is vir die gevoel van “ek kan dinge hanteer”. Hierdie is maar net twee van die elemente in die liggaam wat ‘n groot effek op die emosies het. So ook kan skildklier en hormonale probleme ook emosies rondgooi, en dit is waarom ‘n persoon by jou dokter behoort aan te klop as jou emosies vir ‘n lang tyd wipplank ry. Natuurlik is dit tot voordeel van jou liggaam en jou emosies om gesond te leef, te eet en te oefen, maar indien dit nie die emosies stabiliseer nie, moet ‘n persoon maar ‘n professionele opinie inwin.

Hierdie drie faktore werk hand aan hand saam. Indien ‘n persoon se gedagtes baie negatief is, dan sien jy nie die nut daarin om iets sinvols in jou lewe aan te pak nie, wat dan die afskeiding van seratonien verminder. Indien jy te min seratonien en dopamien het, het jy nie krag om iets lekkers in jou lewenstyl te doen nie, en dan het jy te veel tyd om te dink, wat jou gedagtes weer baie negatief maak en nou is jy nog minder lus om iets te doen… en so beïnvloed die een die ander.

Dus indien jy streef na emosionele balans, maak ‘n doelbewuste besluit om aan jou gedagtes, lewenstyl en gesondheid te werk.

WOW Magazine – Living July 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search