Om ‘n voltal aan te teken Piet se storie

Ons, dis nou ek en Ander Piet en Hennie, staan in die koue winteroggend ons en koester die sukkelende wintersonnetjie toe Hennie skielik vra: “Wie het besluit tien uit tien is die beste? Hoekom nie ses uit ses of drie uit drie nie.?” Dit sit vir my en Ander Piet ook aan die dink. Hoekom nou juis 10 uit 10?

Ander Piet, in sy jong dae die ewige cassanova met sy afslaankappie-sportmotors sug en sê dat daar ‘n paar jong goedjies was wat hy sommer twaalf uit tien sal gee.

Hy sê ook, dat as dit by die aanmekaarsit van Ford V6 enjins kom, hy nie sy gelyke het nie “Het al duisende deur my hande gesit. Net komplimente gekry. Beslis tien uit tien werk.”

Ek en Hennie kyk vir mekaar en vergeet maar van die laaste twee kumbêks waar die ringe verkeerd gefit was.

Hennie wil steeds weet hoekom dan tien uit tien. As die belese een tussen ons, besluit ek om Hennie vanuit die Griekse mitilogie uit sy verwondering te verlos en ek vertel: “Tot in die Derde ryk van Koning Ahasveros, was die telling altyd nege uit nege vir ‘n voltal. Maar sy hoofraadgewer en sterrewiggelaar, van Chinese afkoms, Ching Fong Toet, ontdek toe dat die gode nie van onewe getalle hou nie en hy beveel aan dat die magiese voltal voortaan tien uit tien sal wees.

Hennie gee my een kyk, sê “Hu?” en daarmee is hy tevrede. Ander Piet lyk ook redelik skepties maar terwille van aanvaar hy ook die verduideliking. Na die derde beker koffie, die laaste een met so ‘n klein owerdraaif in, besluit ons afsonderlik en gesamentlik dat ons daarna sal streef om ‘n voltal te behaal vir alles wat deur die werkswinkel gaan. Ander Piet en Hennie praat byna gelyktydig toe hulle vra, met ‘n veelbetekende uitdrukking wat baie lyk soos ‘n kat na ‘n piering melk: “Alles?” “Ja (en ek het seker die vuur aangeblaas met die aanvulling) ja, allles warrop ons ons hande kan lê.

Ek het hulle eers weer die laatmiddag gesien. Die gesigsuitdrukkings het van voltalle getuig. Strewe na voltalle!!

WOW Magazine – Entertainment July 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search