Tuintake Julie 2019

Mense kry soms ’n totaal verwronge idee van ‘n wintertuin. Sommige mense het oor die jare besluit die tuin is hierdie tyd van die jaar lelik, vaal en leeg. Treurige, kaal bome en takke, dís die prentjie wat by menigte opkom wanneer hulle aan ‘n wintertuin dink. Hulle kon egter nie meer verkeerd gewees het nie. Dit bruis eenvoudig van lewe! Kyk na suurlemoen- en lemmetjiebome – beide besig om pragtige nuwe blare en bloeisels uit te stoot.

Verwydering van rypbeskadigde blare en takke:
Wag tot die ergste koue verby is voor jy hierdie blare uitsnoei. Op die oomblik beskerm hierdie blare die res van die plant teen die koue. Wegsny van hierdie blare sal verder onnodig uitloop van ogies veroorsaak wat die res van die winter onbeskut sal wees en maklik deur koue seergemaak sal word.

Snoei:
Struike en plante in die algemeen Baie tuiniers begin reeds Julie met snoei. Snoei kan egter nou uitloop van nuwe lote veroorsaak met onnodige blootstelling van hierdie nuwe groei aan die koue wat nog kom. Wag dus met snoei in gematigde gebiede tot einde Julie en in kouer gebiede tot begin Augustus. Gee ‘n klein bietjie water onmiddellik nadat jy gesnoei het. Wees versigtig om nie te veel water te gee nie aangesien dit wortelverroting kan veroorsaak.

Rose Besproei jou rose een keer elke twee weke met ’n algemene roosbehandeling soos Rosecare om die ontwikkeling van plantswamme te verhoed. Kies ’n windstil dag om te besproei.

Algemeen:
Herfsblare wat in visdammetjies val moet uitgehark word. Indien hierdie blare in die water afbreek sal dit skadelik vir die visse wees. Verwyder wintergras – ‘n onkruid wat aktief groei wanneer die res van die grasperk swak is. Hou aan om pronkertjies se bloeisels te verwyder om die groei van nuwe blomme aan te moedig.

Besproeiing:
Maak seker dat die tuin nie te veel water kry nie. Benat plante ongeveer een keer elke tweede of derde week. Die uitsondering is groeiende bolplante wat meer gereëld water moet kry. In meer gematigde gebiede kan die tuin een keer per week benat word. Besproeiing moet soggens plaasvind sodat die plante saans droog is.

Wenk vir die maand
Snoei terwyl plante dormant is, maar wag tot die ergste winterkoue verby is. In die koue gebiede is dit eers Augustus en in die meer gematigde gebiede einde Julie.

WOW Magazine – Living July 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search