Jy, Vrou

Uniek – enig in sy soort. Alles omtrent vrouwees is uniek. Jy as vrou, is waarskynlik die mees perfekte voorbeeld van ‘n unieke wese in elke opsig wat ewe gemaklik die rolle van ma, eggenoot én sakevrou suksesvol speel. Jy mag dit dalk nie besef nie, maar as jy goed genoeg kyk, sal jy jou unieke eienskappe in die kleinste en fynste dingetjies raaksien.

“Om vroulik te wees is ‘n saak van geboorte, om ‘n vrou te wees is ‘n kwessie van ouderdom, maar om ‘n dame te wees is ‘n keuse.” Jy, volkome vrou verstaan dat jou voorkoms, gedrag en manier van kommunikasie, ander met waardevolle insig ten opsigte van jou karakter voorsien. Jy weet jou ware skoonheid is nie oor ‘n grimeringstoonbank beskikbaar nie of met ‘n nuwe aandrok gewaarborg nie. Jy verstaan ook dat die oorsprong van ware skoonheid binne jouself is. Jy verstaan dat jou ware krag nie daarin lê om soos ‘n man te wees nie, maar eerder om innemend, bedagsaam, vriendelik, intelligent, selfversekerd en statig te wees.

Jy is rojaal met jou tyd, wysheid en hulpbronne. Jy is ‘n vrou van jou woord en eerbiedig jou verpligtinge, dit maak nie saak wat dit van jou vereis nie. Jy bedien ander gewilliglik en onvoorwaardelik en reik uit na diegene wat behoeftig is. Jy bestuur jou prioriteite en tyd baie goed en begryp dat jy net ander kan bedien nadat jy na jouself gekyk het.

Jou positiewe uitkyk op die lewe en jou humor, wysheid en konsekwente aanmoediging is soos ‘n trekpleister vir ander. Hulle is mal oor jou. Jy is ‘n lewenslange leerder en verwelkom veranderings omdat dit beter gevolge vir almal inhou. Jy, volkome vrou vergelyk jou ook nie met ander nie, maar omhels jou sterkpunte en aanvaar jou swakhede.

‘n Ware dame se beleefdheid is opmerklik in hoe sy ander behandel. Jy toon respek, beheersdheid en persoonlike verantwoordelikheid in jou voorkoms, gedrag en kommunikasie. Jy is eerbaar en waardeer ander. Jy gedra jouself ten volle en weet wat geskik en aanvaarbaar is. Dit stel jou in staat om verskeie sosiale en professionele omgewings gemaklik te beheer. Ander het lief geword vir jou omdat jy toeganklik is vir ander kulture en mense uit verskeie sosiale en ekonomiese agtergronde. Jy kies glad nie kant nie.

Jou sterk werksetiek is merkbaar, net soos jou trots in jou tuistake. In die gemeenskap streef jy om slegs jou beste te gee en dit maak jou betroubaar, lojaal en ander praat net goed van jou. Hulle weet jy luister graag en gesels doeltreffend. Jou woorde is vriendelik, taktvol en bevat geensins haatspraak nie. Dit maak jou grasieus, inklusief en bekoorlik.

Ons sluit af met jou tuiste en die behoeftes van jou familie. Hier skep jy ‘n welkome, vreedsame, liefdevolle en voedsame omgewing – ‘n veilige hawe weg van die storms.

Ons gemeenskap behoort die beginsels van vrouwees te omarm en hul voorbeeld te volg. Die kuns om ‘n dame te wees is relevant vir vandag en is toeganklik vir elke vrou – oud en jonk.

WOW Magazine – Women August 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search