Tuintake Augustus 2019

Augustus is die maand van verandering. Dit is ‘n onrustige tyd met die wind wat kom en gaan – asof die natuur nie kan besluit wat om volgende te maak nie. Sodra die balans in die rigting van die lente swaai, kom die winter met ‘n terugvegpoging. Koue, reën, wind of sonskyn – die lewe is ‘n nimmereindigende proses van afbreek en opbou. Dit is nou tyd vir opbou in jou tuin.

Lowergroen grasperke
‘n Pragtige tuin is nie veel sonder ‘n lowergroen grasperk nie. Die eerste ding wat jy behoort te doen as jy ‘n besproeiingstelsel het, is om die hele stelsel na te gaan. In die winter is dit baie stowwerig en die spuitkoppe kan verstop raak. Kyk dat alles nog reg werk en of die spuitkoppe vervang moet word. Snoei grondbedekkers sodat hulle mooi kan uitloop wanneer die lente aanbreek.

Terwyl jy met die snoeiskêr besig is, kan jy jou rose snoei, asook vrugtebome en ander bome wat teen die einde van die winter snoeiwerk vereis. Augustus is ook die tyd om aan die grondkombers om bome en in beddings te werk. Vir só ‘n grondkombers gebruik jy ‘n mengsel van die helfte kompos en die helfte mis en jy werk dit goed in om boomstamme en in beddings om te keer dat die goeie grond wegspoel wanneer die reën begin uitsak.

Spuit en snoei
Voordat bome nuwe lote maak, is dit ook belangrik om vrugtebome en selfs rose te spuit met ‘n mengsel van kalkswawel om plae wat op die takke skuil, dood te maak. Dit is ook nou die tyd om aandag te gee aan blombeddings sodat jy kan begin plant vir die lente. Beddings moet graafdiepte omgespit word. As die grond sanderig is, moet jy meer kompos inwerk en as dit kleigrond is, moet jy ‘n bietjie growwe sand saam met die kompos inwerk om goeie dreinering te verseker. Daarna strooi jy kunsmis oor en hark die bedding gelyk. As jou beddings gereed is, kan jy somerblombolle en saailinge plant.

Maak reg vir lente
Dit is nou ‘n goeie tyd om vrugtebome aan te skaf en te plant. Maak seker dat jy vrugtebome op ‘n sonnige, oop plek in jou tuin plant en maak seker dat jy ook superfosfaat in die gat inwerk. Jy kan ook nou jou grasperk regkry vir die somer en grasperke word nie meer met rooigrond toegegooi nie. Sny jou grasperk kort, byna tot by die wortels en raak ontslae van die saamgepakte gras. Daarna gooi jy net ‘n baie dun lagie grasperkbedekking op wat jy by enige tuinsentrum kan koop. Op plekke waar die grasperk ‘n bietjie ongelyk geraak het, kan jy dit ‘n bietjie dikker oorstrooi.

Huisplante
Hier’s ’n paar wenke as jy jou huisplante in ander potte wil plant:
Was en skrop gebruikte potte met ’n verdunde Jeyes Fluid-oplossing en laat dit in die son droog word. Week nuwe kleipotte in ’n emmer water voordat jy dit gebruik. Sorg dat jy ’n voorraad kommersiële potgrond het, asook ’n paar stukkende potte of bakstene waarmee jy die dreineringsgate kan bedek. Maak potgrond nat voor jy dit gebruik.
Alle huisplante moet gemaklik in hul potte pas – waak daarteen om plante in potte te plant wat hopeloos te groot is. Sommige plante, byvoorbeeld varings, moet net verpot word as dit te groot word vir die pot waarin dit is of as dit nie goed groei nie.
Wanneer jy potplante natmaak, sorg dat die water by kamertemperatuur is, aangesien plante nie van baie koue water hou nie.

Wenk vir die maand
Plant hierdie maand gesiggies. Gesiggies is beskikbaar in ‘n asemrowende verskeidenheid van kleur en vorm. Hulle is sekerlik van die heel maklikste eenjarige kleurplante en sal van in semi-skadu tot in son floreer. Gesiggies vaar uitstekend in oopgrondbeddings, maar sal net so gelukkig wees in hangmandjies, plantbakke en enige houer wat grond kan hou.

WOW Magazine – Living August 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search