Kry jouself gereed vir hierdie heerlike seisoen

Dit is nou tyd vir vernuwing – op alle gebiede. Maak skoon – jou kop, jou kaste en jou huis. Maak ‘n afspraak met jouself vir ‘n dag wanneer jy die uitsorteerproses gaan aanpak.

Jou huis
Beplan hoe jy jou huis gedurende die jaar gaan onderhou sodat jy nie oorweldig voel omdat jy alles op een slag moet doen nie. Doen elke maand een spesifieke taak – pak kaste reg, sorteer die kombuis, was gordyne ensovoorts. Koop vars blomme en skap ‘n nuwe tafeldoek aan wat jou volik sal laat voel. Stof die familiefotos af en herrangskik dit.

Jou tuin
Nie almal het groen vingers nie, maar ‘n bietjie skoonmaak of die aanplant van helderkleurige blomme sal almal laat beter voel. ‘ n Pot met vrolike blomme by die voordeur sal die lente uitbasuin.

Jou handsak
Jou handsak is die een artikel wat oral saam met jou gaan en ‘n opgaarplek word vir strokies, tandestokkies en wie weet wat nog. Sit ‘n stuk koerantpapier op die kombuistal of waar jy gemaklik voel en dop jou handsak om. Gee dit ‘n goeie uitskud en maak seker al die hoekies en kantsakkies is skoon. Vee die binnekant en buitekant mooi skoon af. ‘n Spuitjie lekkerruikgoed aan die binnekant is ‘n goeie idee. Begin nou die hoop goed uitsorteer. Gooi die lekkergoed in ‘n bakkie vir kinders. Bêre die kleingeld weer in jou beursie. Verbrand papiertjies met persoonlike inligting sodat die nie in die verkeerde hande beland nie.

Jou kantoor
Dit is raadsaam om een maal per jaar van onnodige papiere en goed ontslae te raak. As jy nie seker is of jy die inligting weer gaan nodig hê nie, sit dit in ‘n leer. Sit telefoonnommers op jou selfoon en maak ‘n rugsteunkopie daarvan. Stoorplek is gewoonlik ‘n problem, maar dekorwinkels verkoop deesdae pratige houers wat jy as bêreplek kan gebruik. Kanselleer alle subskripsies en nuusbriewe wat jy nooit gebruik nie. Opgegaarde tydskrifte kan vir skole of instansies geskenk word.

Jou kop
Maak ‘n lys van alles waaraan jy aandag moet gee. Om gedurig te dink aan wat gedoen moet word, en nie daarby uit te kom nie, is uitputtend. Dit is baie bevredigend om elke taak op die lys af te merk.

Jou motor
Jy is verantwoordelik vir jou motor se netheid. Maak alle opgaarplekke leeg. Gaan jou bande na. Maak seker al die gereedskap is nog in die motor vir ongesiene noodgevalle. As jy nog nie weet hoe nie, leer om ‘n pap wiel om te ruil.

Jou gees
Die skoonmaakproses in die huis en ander plekke gaan dalk net ‘n seisoen hou, maar die geestelike skoonmaak sal jou vorentoe baat. Maak jou hart skoon, los wrokke op, maak vrede. Dink voor jy praat en moenie skinder nie. Beoefen geduld – dit voorkom dat jy mense seermaak. Voed jou siel met positiewe dinge. Verban die negatiewe deur dit te vermy. Gee liefde en ontvang dit terug. Moenie dinge te ernstig opneem nie.

WOW Magazine – Women September 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search