‘n Angsvrye lewe Deur Lizelda Goslin

Ons samelewing is gewoond aan die woord stres, angs, paniek en vrees, maar wanneer paniek en angs wel soos ‘n groot tsunami toeslaan, dan weet meeste persone nie wat aangaan nie. Soveel persone stap by ‘n sielkundige of dokter se spreekkamer in met die bekommernis dat iets groot fout is, maar hulle het nie ‘n idee wat dit kan wees nie. Hulle voel of hul uit beheer is, asof daar ‘n permanente klip in hul borskas geplant is, ‘n hand hul keel toedruk, en hul maag in ‘n knoop gebind is. Dan is daar diegene wat hierdie simptome so erg ervaar: hartkloppings, duiseligheid, onbeheerste bewe, lamheid in arms of bene en ‘n totale gevoel van paniek; dat hulle selfs by noodgevalle by die hospitaal opeindig.

Angs het in die afgelope paar jaar ‘n epidemie geraak in die Suid Afrikaanse populasie, met misdaad wat op ons voorstoepe gebeur, finansiële en politiese onsekerheid en die bekommernis oor die toekoms van ons kinders. ‘n Belangrike aspek wat angsgevoelens die hoogte laat inskiet het is die blootstelling aan sosiale media en toeganklikheid van aaklige nuus en inligting; waar ons vroeër jare beskerm was teen al die euwels wat in die wêreld gebeur het, omdat die media beperk was tot koerante en SAUK-nuus.

Die oorsprong van angs word gevind in die “veg-of-vlug” reaksie. Wanneer daar gevaar is, en dan veral lewensgevaar, sal jou primitiewe brein oorneem en vir jou opdrag gee (deur jou liggaam en emosies) om te veg, vlug of vries. Die veg reaksie word gekoppel aan irritasie en aggressie, terwyl die vlug reaksie weer met vrees en angs gekoppel word en die vries reaksie is die emosionele doodsheid en afstomping wat ‘n persoon ervaar in ‘n krisis. Hierdie emosies is met ander woorde baie toepaslik as daar letterlike gevaar is, maar ongelukkig onderskei die primitiewe liggaam nie altyd of die gevaar werklike gevaar is, of bloot “worst case senario’s” gedagtes is nie.

Angs is ongelukkig ‘n gevoel wat moet aangespreek word, want dit is ongelukkig een van daardie emosies wat stelselmatig gaan groei en die potensiaal het om jou wese en lewe oor te neem. Die persoon was byvoorbeeld in ‘n winkelsentrum en het sommer spontaan paniekerig begin voel en uit die winkel uitgestorm. Die assosiasie het moontlik nou in die brein begin vorm dat winkelsentrums ‘n plek van gevaar is, en hoe meer jy winkelsentrums gaan vermy, hoe meer bevestig jy vir jou primitiewe brein dat dit ‘n plek van gevaar is en hoe minder kan jy enigsins jou voete weer in ‘n winkelsentrum sit.

Sommige persone sal die angs probeer beheer deur perfeksionisties te raak en te veel alles probeer beheer. Ander gooi maar net boedel oor. Die eerste stap om die angs onder beheer te kry is om te besef dat wat jy voel, ANGS is, en dat net JY hierdie gevoel kan oplos. Eerste stap is dan om aan jou gedagte-wêreld te werk. Angs is ‘n gevoel oor die toekoms: “iets vreesliks gaan gebeur!” Angs gedagtes lê nie in die verlede of in die oomblik nie, maar in netnou, môre, volgende week en volgende jaar. Angstige persone se gedagtes is nie gewone onsekerheidsgedagtes nie, maar “worst case senario” gedagtes wat die ergste moontlike dinge voorsien wat moontlik kan gebeur. Dus is die geveg teen angs om meer realistiese en beter gedagtes te dink oor wat moontlik in die toekoms kan gebeur.

Daar is die innerlike gedagte proses om angs onder beheer te kry, maar dan is dit ook belangrik om die liggaam onder beheer te kry. Dit kan gedoen word deur asemhalingsoefeninge, ontspanningsoefeninge en meditasie – al hierdie is oefeninge wat die gedagtes en liggaam meer kan laat ontspan. Daar is deesdae ook baie oulike oefeninge wat afgelaai kan word op ‘n slimfoon om jou te kan help.

WOW Magazine – Living September 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search