Om die Lente te vier Piet se storie

Toe Hennie daardie oggend met “Holladrie hoe, holladrie hoe, dis heerlike lente, die winter’s verby” al singend uit sy bakkie klim na hy eers ‘n paar swierige draaie gegooi het en op nerf na ‘n nuwe kar waaraan gewerk moet word gestamp het en uit die bakkie spring en skree “Heppie, heppie” toe weet ons (dis nou ek en Ander Piet): Hennie is getrek, Hennie het iets gerook of dalk het sy bruidjie hom met uitnemendheid onthaal, maar vra nie daai vraag nie.

Dis eers toe hy uitspring uit die bakkie met sy blommetjies hemp en broek en pers sandale, toe kon Ander Piet nie hou nie en verneem vriendelik na Hennie se welstand. Hennie wat eens ‘n gimnas was antwoord met ‘n arabiersprong, drie vlikvlakke en ‘n wawiel. Hy land perfek reg voor Ander Piet en sing nog ‘n bietjie “Al die veld is vrohoolik, al die voëltjies sing, al die akkedisse kom om saam te drihnk…..Al die koggelmandertjies kom om fees te vier” korrogeer Ander Piet die liedjie in sy diep basstem. Ek val ook in en die trio sing verder: “Hier gallop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mierhierkie.Almal kom om fees te viehieeeer” eindig ons in stemme.

Die werkers val weg met Shosolosa en so begin die werkdag op ’n vrolike noot. Ons is uitgeput en maak tee, so op die wysie en resep van Kom Kêrels……
Na drie koppies tee besluit ons eenparig sonder dat daar eers ‘n vergadering gehou was, dat ons wel die lente behoorlik gaan verwelkom.

Hennie sê dat hy sy bakkie lemmetjie groen gaan verf en dan versier ons hom met helder pienk en pers blommetjies met so hier en daar ‘n bloedrooi rooi een. Ander Piet sê dat hy nou die dag verf op ‘n veiling gekoop het. Die 20 liter kanne het geen aanduiding van die kleur opgehad nie, toe kry hy dit as ‘n baargun. Ons maak ‘n blik oop en dan verf ons: die eerste blik was pienk, die tweede een pers, die derde een geel en so werk ons die blikke deur en die stoor en werkswinkel lyk spoggerig en sommer spiekeries. Ek en Hennie begin so na die huis se kant toe loer maar Ander Piet skop viervoet vas. “As julle nog wil verf, sleep dan daardie paar wrakke wat heeltemal gestrip is uit en parkeer so al langs die ingangspad en verf hulle.”

So gesê so gedaan en daar spog die plot met die helderkleurigste ingangspad wat pas by die stoor en werkswinkel.

Onthou nou: Dis heerlike lente, die winter is verby…..”

WOW Magazine – Entertainment September  2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search