Tuintake September 2019

Lente is onmiskenbaar in die lug. Hierdie tyd van die jaar wanneer alles nuwe lewe kry en begin groen word, jeuk ‘n mens se vingers darem om tuin te maak! Met groen blare en bloeisels wat oral kop uitsteek, is dit lekker om in die lentetuin in te spring en die heerlike warmer sonskyndae te geniet. Die dae word warmer en langer en oral sien ’n mens die eerste tekens van lente.

IN DIE BLOMTUIN:
Dis planttyd! Plant struike, vlasse, bome, vrugtebome, grondbedekkers, rankers, kruie en saailinge nadat grond voorberei is. Werk kompos, beenmeel en of superfosfaat in voordat jy plant. Somersaad kan ook nou gesaai word. Saai Afrikaners, anemone, asters, cinerarias, josefskleed, ridderspore, gousblomme, salie, weeskindertjies, verbenas en vingerhoedjies. Winterblomme wat klaar geblom het kan nou uitgehaal word, en beddings reggemaak word. Plant ook gerus begonias en gloksinias. Usambaraviooltjies kan nou voortgeplant word deur die wortels stukkend te breek en die stukkies te plant. Verdeel waterlelies en ander waterplante wat te dig groei. Asters, celosias, dahlias, gazanias, josefskleed, kappertjies en petunias is ook gunstelinge.

GROENTE- EN KRUIETUIN:
Aartappels, artisjokke, aspersies, basielkruid, beet, blaarslaai, dille, eiervrugte, ertjies, kattekruid, koljander, komkommers, komkommerkruid, kool, marjolein, mielies, pampoen, patat, radyse, rissies, salie, seldery, soetrissies, spanspek, spinasie, skorsies, stam- en rankbone, stevia, tamaties, tiemie, vinkel, waatlemoen en wortels.

VOEDING:
Lente is dié tyd vir welriekende blomme. Om seker te maak dat ’n mens se plante op hul mooiste blom en vertoon, is dit nou die tyd om jou beddings met ’n 3:1:5-voeding te voer. Die basiese voedingstowwe wat plante benodig is stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) – soos byvoorbeeld voorgestel deur die 3:1:5-syfers op die bemestingsak. Stikstof (3) is belangrik omdat dit help

om nuwe blare, takke en stingels te ontwikkel, fosfor (1) sorg vir ’n sterk wortelstelsel en kalium (5) vir groter en meer kleurvolle blomme en vrugte – dus die grootste en belangrikste syfer met dié spesifieke voeding.

WATER:
’n Mens behoort jou tuin sommer vroeg oggend nat te maak, indien moontlik voor 08:00 wanneer die son lekker begin skyn. So maak ’n mens seker die plante kry genoeg water voor die dag se hitte dit gulsig opdrink en die tuin verskroei.

ALGEMENE WENKE:
Spuit vrugtebome vir vrugtevlieg sodra ongeveer 80% van die bloeisels afgeval het en dun vrugte uit wat te dig opmekaar sit. Haal digte meerjarige blomme en siergrasse uit en verdeel hulle. Let op vir termiete in die tuin en bestry dit. Gee potplante gereeld water. Snoei heinings en vormplante en snoei ook rypbeskadigde plante maar net sodra die kans van laatryp reeds verby is. Verwyder die ou potgrond om al jou plante in houers tot op wortelvlak, vul op met vars potgrond en bemes met Seamungus.

WENK VIR DIE MAAND:
KOSH-inwoners word aangemoedig tydens Nasionale Boomplantweek van 1-7 September 2019 ‘n boom of struik in jou tuin, op jou sypaadjie of in ‘n park te plant. Dit is ook nou die ideale tyd om grondbedekkers soos Creeping Jenny (lysimachia nummularia) of viooltjies (viola) in beddings te plant. Dié fraai plante sal sorg dat daar so min as moontlik onkruid tussen jou ander plante opkom.

WOW Magazine – Living September 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search