Kom Fees Magtig!

Hierdie is die een jaar, en daar is selde dié geleentheid, wat feesgangers die room van die kunste almal by één fees te siene kry!

VAN DIE PRODUKSIES WAARIN GEVIERDE AKTEURS TE SIENE IS, SLUIT IN:
Koningin Lear met Antoinette Kellermann. Katvoet, vanjaar se groot Nati-/ Feesteforumproduksie met onder andere Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots, Albert Pretorius en Martelize Kolver. In Kamphoer vertel Sandra Prinsloo die verhaal van Susan Nell. Nell wat tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag en vir die dood agtergelaat is.

DIE SORGVULDIG SAAMGESTELDE PROGRAM BIED NATUURLIK OOK OPWINDENDE DEBUUTWERKE:
Jana Cilliers en Dawid Minnaar is te siene in Wilde-als, ’n toneelstuk oor herinnering, verromatisering, die naakte waarheid en die liefde. Marieta van der Vyver se bekende “coming of age” roman, Dinge van ’n Kind word deur Francois Toerien verwerk tot ’n eenvroustuk met Cintaine Schutte.Christo Davids, in 2018 bekroon met ses Aardkloptoekennings vir My Seuns, bring vanjaar: Queenie-hulle. Dit vertel dit die storie van ’n groep bergies wat die trappe by die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad huis noem. Dowwe Dolla debuteer ook met haar nuutste lawwigheid: Nou of nooit! Kyk, jy weet wat jy gaan kry, maar weet die arme Coenraad Rall (pianis) wat op hom wag?

Op die musiekfront debuteer Charl du Plessis met sy eerste soloklavierprojek – Solo. Klassieke en populêre musiek vloei ineen in hierdie bekroonde Steinwaykunstenaar se nuwe produksie. CH2, The Fire Gypsies en Die Montoya Spaanse Dansers beloof om ’n unieke ervaring te wees wanneer die veelbekroonde virtuosokitaarduo saam met vuurdansers op die verhoog te siene is.Joshua na die Reën se nuutste produksie, Vlieërs, gaan jou oudergewoonte meesleur. Hy is saam met Liani Reynolds op die verhoog.

PRODUKSIES WAT JY DALK ELDERS MISGELOOP HET:
In Donkie speel Frank Opperman ’n 58-jarige skoolhoof wat onder ernstige druk is. Die skool presteer nie op akademiese- óf sportvlak na wense nie. Uitverkoop by KKNK. Tien duisend ton met Cintaine Schutte en Albert Pretorius is ’n tragikomedie oor die verrassende verloop van ’n verhouding, oor familie, verandering, hoop en verraad. Die voordele van eierwit met Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm, vertel van twee susters wat in ’n huisbak vassit. ’n Komiese drama – lag met ’n traan.

Musiekproduksies soos Amanda Strydom se Miss Mandy, Karen Zoid, Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoosuite, Kombi-Nasie (met Wicus van der Merwe en Pietman

Geldenhuys), O, my Folk (met o.a. Koos Kombuis, Herman Kleinhans, Bottomless Coffee Band en Johrné van Huyssteen), Refentse, Loki Rothman en Albert Frost, Mathys Roets en Dana Snyman, om maar ’n paar te noem.

VISUELE KUNS
Kurator, dr Johan Thom stel sy program sorgvuldig saam onder die tema Briewe aan die Nag. Hy laat die kollig val op kunstenaars wat die nag as inspirasie neem. Cobus Haupt, feeskunstenaar, se uitstalling sal in die NWU hoofgalery te siene wees. Sien ook uit na werk van Willem Boshoff, Anastasie Pather, Alka Dass, Chrisel van der Merwe, Grace Mokalapa, Wayne Matthews, Alison Shaw, Alet Pretorius en Jacob van Schalkwyk. Feesgangers kan, soos verlede jaar, weer in ’n taxi spring en huise wat in Ikageng in kunsgalerye omskep word gaan besoek, die kunstenaars ontmoet en ’n egPotchefstroomse ervaring geniet. Daar is natuurlik ‘n paar belangrike algemene feite wat waarsonder feesgangers nie kan nie:
• Aardklop se afskopfunksie vind op 23 September plaas en beloof om die kunsrevolusie met ’n bang te begin.
• Feesterrein is oop van 24-28 September en daar is meer as 500 kos- en kunsvlytstalletjies om van te kies en te keur.
• Toegang tot die feesterrein kos weer slegs R30 per dag (of R75 vir weekskaartjies te koop by die feeskantoor). Kinders o/12 kom gratis in!
• Produksiekaartjies sal by Aardklop se kantoor (Molenstraat 69, Potchefstroom) en aanlyn by Ticketpro te koop wees vanaf die 24ste Junie.
• Ook op die feesterrein is twee gratis verhoë, ’n veilige kinderarea, KlopKidz Kontreistories, wyn- en kunstente –’n hele week se lekkerte.
• Pendeldienste vertrek van die h/v Esselen en Hoffmanstraat en kos slegs R15.

In ’n neutedop: ons glo vanjaar se program is alles waarvan ons én feesgangers kan droom. Ons maan feesgangers om nou te beplan aan hul September-vakansie

Media-navrae: Alexa Strachan: 083 273 9768 Delmari van Zyl: 084 444 4750

WOW Magazine – Living October 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search