Kwaliteit van lewe Deur Lizelda Goslin

Aardklop is geskep om aan ons kwaliteit te bring… kwaliteit vermaak, kwaliteit produkte en kwaliteit kuns. Wanneer ʼn persoon jouself blootstel aan alles wat daar te koop aangebied word en ook die vlak van vermaak, kan ‘n persoon nie anders as om waardering te hê vir die kwaliteit van ander se skeppingsvermoëns nie. Daar kan selfs ’n tikkie jaloesie in die mengsel ingegooi word, tesame met die wens “ek wens ek was so kreatief… of ek wens ek het soveel selfvertroue gehad!” Hoewel ons almal nie met dieselfde talente gebore is nie, kan elke persoon op die aarde wel streef na kwaliteit… kwaliteit van lewe!

Kwaliteit word gedefinieer deur die Merriam-Webster woordeboek as die maatstaf van hoe goed of sleg iets is, of die vlak van uitnemendheid van ʼn produk, eienskap of situasie. Dus is die opsomming van kwaliteit wanneer iets beter is as iets anders. Die vraag onstaan dan egter hoe ʼn persoon kwaliteit sou meet: aan die prys, aan die ervaring of aan al die funksies (van byvoorbeeld ʼn artikel)? Wat hiermee sou aansluit is die vraag hoe jy die kwaliteit van jou lewe sou meet? Lê die antwoord in hoeveel plesier jy gehad het, hoeveel take jy verrig het of hoeveel geld jy gemaak het?

Elke persoon op aarde strewe waarskynlik na kwaliteit van lewe. Mense soek meer uit hul daaglikse bestaan as net die stryd om te oorleef, rekeninge te betaal en net deur die dag te kom. ‘n Kwaliteit verhouding beteken daar is meer aan die verhouding as om net uit gewoonte saam te wees en die ander persoon te verdra. ‘n Kwaliteit gesin is wanneer ‘n gesin saam kan pret hê, kan gesels en herinneringe saam skep en ‘n kwaliteit werk is meer as net die salaris – dit is wanneer daar werkstrots is tesame met die wete dat wat jy by die werk doen ‘n verskil maak.

Kwaliteit van lewe is nie iets wat in ʼn persoon se skoot val nie. Dis ‘n doelwit waarna ‘n persoon daagliks werk. Om kwaliteit van lewe, verhoudings en werk te bereik, hang af van ‘n persoon se gesindheid, nie van ʼn persoon se gelukskote of beursie nie. Meeste persone voel dat hul kwaliteit van lewe alleenlik kan verhoog wanneer hulle meer geld verdien, ‘n beter werk kry, wanneer hulle ‘n prentjiemooi huis het of dalk ʼn nuwe huweliksmaat kan kry. Indien dit waar is, sal maar min mense lewenskwaliteit kan hê.

Die soeke na lewenskwaliteit vra harde werk, geduld, vasbyt, uithou en deurdruk. Die eerste tree na lewenskwaliteit lê in die wete dat indien jy net alles raaksien wat verkeerd loop, wat negatief en sleg is in hierdie lewe, kwaliteit van lewe jou gaan ontwyk. ‘n Negatiewe, depressiewe of angstige gesindheid blok ‘n persoon se gees om dit wat wel kwaliteit is raak te sien en te geniet. Dus is die eerste stap om hard te werk om ‘n meer positiewe uitkyk op die lewe te hê, tesame met die geloof en hoop dat daar wel ‘n verskil sal wees indien ʼn persoon sou hard werk om hul lewe te verbeter.

Verder kan ‘n persoon ‘n doelbewuste besluit te maak dat jy roetines, gewoontes en patrone gaan begin verander wanneer dit teen jou doelwitte werk. Met ander woorde, jy gaan uit jou gemaksone beweeg en ‘n verskil maak. Praktiese voorbeelde hiervan is dat jy in plaas van ʼn afgestompte groet, moeite kan doen om uit te vind hoe ‘n persoon se dag werklik was en belangstelling toon of om mense rondom jou te begin komplimenteer, in plaas daarvan om hul heeltyd op hul foute uit te wys. Om uit ‘n persoon se gemaksone te beweeg en dinge bietjie anders te doen is baie ongemaklik en kan selfs angs veroorsaak, en daarom moet dit ʼn kognitiewe besluit wees om jou patrone te verander. Die motivering is die wete dat jy aktief daaraan kan werk om jou lewenskwaliteit te verbeter, en as jy vandag presies dieselfde gaan doen as wat jy gister en die vorige maande gedoen het, gaan môre en die volgende maand presies dieselfde lyk… en dit wil jy nie meer hê nie.

Elke persoon doen sekere dinge in hul lewe wat hulself en hul eie lewenskwaliteit pootjie, maar dis die minderheid van mense wat hand in eie boesem kan steek en kan erken wat hulle self verkeerd doen en daaraan probeer werk. Dis dan juis hierdie vermoë om jou eie foute te erken en daaraan te werk, wat lewenskwaliteit verhoog. Dit is die klein dingetjies wat ons kan verander, wat uiteindelike met tyd ‘n groot impak kan hê.

WOW Magazine – Living October 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search