Tuintake Oktober 2019

Gebruik die mooiste maand in die tuin deur die warmte te benut. Bring soveel tyd as moontlik in jou tuinparadys deur. Omskep jou stoep in ’n toevlugsoord waar jy die heerlike weer kan geniet en spaar ruimte met ’n vertikale groentetuin. Onthou om kleur vir jou somertuin te plant en vier Wêreldhabitatdag 7 Oktober 2019.

VIR DIE OMGEWING:
Wêreldhabitatdag op 7 Oktober fokus op die bewaring van natuurlike habitatte en die voëls, diere, insekte en plante wat daarin leef. Só kan jy dié inisiatief steun: skep groen areas in jou dorp of stad; plant bome as windskerms en om gronderosie te beperk; bou mure in jou tuin met horisontale stompe of hol stene as blyplek vir insekte; plant blomme, vrugtebome en grasse om voëls na jou tuin te lok – dit sal vir hulle kos, skuiling en blyplek verskaf. Onthou om jou waterverbruik te verminder met ’n grys- waterstelsel wat huishoudelike water na groente- en blombeddings lei. ‘n Puik gedagte is om in ‘n kerwer te belê en maak jou tuinafval fyn. Strooi dit as deklaag rondom plante om vog in die grond te behou, die groei van onkruid te stuit, verdamping te beperk en die vrugbaarheid van die grond te verhoog.

WOEMA VIR JOU STOEP:
Omskep ’n saai stoep in ’n bekoorlike ruimte wat jy kan geniet! Sit rakke teen die mure vas om potplante en mooigoed uit te stal. Kies sitplek wat ook bêreplek verskaf. Verf planthouers om by jou stoeloortreksels of kussings te pas en plant hooggroeiende plante soos palm-, Ficus- of sitrusbome in groot houers om privaatheid te gee.

PLANT GEURIGE PLANTE:
As jy graag op someraande op jou stoep kuier of eet, plant geurige plante soos Pelargoniums en kruie in houers, en gebruik sonkragligte of kerse vir atmosfeer. Oktobermaand moet gevier word!

GROENTE TEEN MURE:
Min dinge is so bevredigend as om jou eie groente te kweek. As jy min ruimte het, probeer gerus ’n vertikale tuin. Die plante in so ’n tuin is oor die algemeen baie gesond, omdat daar goeie lugsirkulasie is en die plante baie sonlig kry. Dis boonop maklik om die groente te oes. As jy net plek op jou stoep of balkon het, sit draadkeëls of wigwams wat van stewige stokke gemaak is in groot planthouers en laat tamaties, ertjies en rankboontjies daarteen groei. En as jy genoeg plek in jou tuin het, kan jy tralies of heinings gebruik om ’n vertikale tuin te skep.

WENK VIR DIE MAAND:
Sit rolwieletjies onderaan planthouers sodat jy dit maklik kan rondskuif. Installeer ’n klein waterglanspunt of fonteintjie op die stoep – dit sal ’n kalmerende uitwerking hê.

WOW Magazine – Living October 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search