Om saam te werk aan ‘n droom… Piet se storie

Daar is baie drome: soos Des Lindberg se drome van ‘n plaas sonder enkele baas, van ‘n brandewyn dam waar die lammers lam en die trekkers tesame trek…

Maar daar is ook ander drome: “to dream the impossible dream…” Ons, dis nou ek en Ander Piet en Hennie sit die heerlike somer vir die soveelste maal en verwelkom daar in ons gunsteling opskepplek met die nuwe rondborstige niggie agter die toonbank. Van haar sou mens sonder twyfel kan sê dat sy vooruitstrewend, ingetoë en effens agterbaks is.

Aangesien hierdie ‘n gesinstydskrif is, sal ek nou liewer nie Hennie se drome in woorde neerpen nie. Die wette is deesdae baie streng. Maar ons droom van nog gesamentlike projekte, veral omdat ons Aardklopstalletjie so gewild en sukselvol was. So gewild dat ons naderhand by die skrêpjaart nog enjins moes gaan aankoop. Ek moes in die pônshops gaan krap vir nog boeke en Hennie het sy nefies se Dinkietoois oornag gaan vaslê.

Dit was ware spanwerk, maar tog ook met ‘n individualistiese streep: elkeen het verkoop wat hy wou.

Ons sit en droom van ‘n nuwe projek, een waar ons as ‘n span gaan saamwerk en ons reël Hennie summier buite orde toe hy sy droom oor die Niggie weer op die tafel lê. Ons droom van ‘n tog deur Afrika, so op die voetspore van Johan Badenhorst se roetes, sê so van Kaap na Kairo.

Die plan is dat Ander Piet en Hennie die voertuig sal voorsien en versien en instand hou.

Ek dring aan op ‘n oorspronklike voertuig sonder enige modifikasies: “stock standard”. Verkieslik Japannees van oorsprong want ek het al gehoor jy koop Toyota-parte sommer in die Koekashops in Afrika. My aandeel is die beplanning van die roete, die reël van die reisdokumente, toestemming om grense oor te steek en al die administratiewe sake.

Benewens die voertuig, moet Ander Piet toesien dat ons proviand reg is, vaste spyse en vloeibare spyse. Ons gee onsself drie maande om die beplanning af te handel en dan gaan ons die langpad aandurf.

Ons sit later die middag sommer onder ‘n koelteboom daar op Ander Piet se plot en mymer met ‘n ligte mengeldrankie in die hand…

Is dit ‘n “impossible dream”? Of gaan daar dalk brandewyn damme waar die lammers lam op ‘n baaslose plaas op ons pad wees?

Ons sal nie weet as ons nie probeer nie want SPANWERK LAAT DIE DROOM WERK.

WOW Magazine – Entertainment November 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search