Tuintake November 2019

In November word die seisoen se gewerfskaf beloon met die pragtigste kleurespel. Krismisrose en agapanthus staan in volle blom en fuchias betower met hul skoonheid. Plante groei op hul vinnigste en dis of die hele natuur saamwerk na ‘n hoogtepunt van kleur en kontras. Die werk wat nou gedoen word sluit onderhoud en voorbereiding in sodat daar in Desember die minimum gedoen word.

Plant kleur
Oop beddings en kaal kolle kan in ‘n oogwink omgetower word in spatsels kleur wat sal hou tot die herfs. Speel met kleurkombinasies soos geel met blou of rooi en wit. Plant in massas en moenie bang wees om verskillende soorte blomplantjies soos wit heuningblommetjies saam met rooi hanekamme te plant nie. Moenie soorte meng wat mekaar sal oorweldig nie. Plant ‘n oorvloed impatiens in skadukolle. Plant petunias in die warmste beddings met die meeste son. Hulle is nie lief vir te veel water nie. Portulaca vygies is ook ‘n goeie keuse vir droë hoekies met sterk son.

Spit die grond diep los en werk ‘n dik laag Safari Kompos en in dubbelhandvol beenmeel of Superfosfaat in. Plant die plantjies, gee goed water en sprinkel snywurmlokaas tussenin. Voer weekliks met Multifeed Flowergro, Ludwigs Vigorosa of Seedling Food.

Rose
Rose kan van September tot April in opeenvolgende sarsies blom as hulle reg behandel word. Deur rose gereeld netjies te hou, word blomvorming aangemoedig. Sny uitgeblomde stele terug, verwyder kruisgroei en takke wat die plant so dig maak dat genoeg sonlig nie die blare bereik nie. Deur gereeld rose vir die blompot te sny, word dieselfde resultate behaal. Van middel November tot vroeg Desember word die volgende sarsie blomme verwag.

Plant van die maand
Die nederige agapanthus is besig om groot naam te maak. ‘n Magdom soorte is deesdae beskikbaar met variasie in vorm en kleur. Daar is soworte met stewige, dik stele en die blouste koningsblou blomme en plante met breë gestreepte blare in geel en groen. Miniatuursoorte staan trots hul man met massas diggepakte blomstele wat vir weke lank blom. Agapanthus floreer in volle son, maar doen ook goed in gefilterde skadu. Die indrukwekkende blomme, gedra op lang stele is nie al pluspunt nie, hulle het pragtige welige blare wat regdeur die jaar goed lyk. Hulle het nie fieterjasies nie en sal in enige grond groei.

Wenk vir die maand Plant jou nuwe plante met genoeg goed verouderde kompos en ‘n paar hande vol beenmeel, alles goed gemeng met die grond uit die plantgat.

WOW Magazine – Living November 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search