Die geluk en seer van Kersfees Deur Lizelda Goslin

Kersfees dien as ‘n herinnering aan alles wat ons het, om dankbaar daarvoor te wees en dit te vier, maar ongelukkig het Kersfees die tyd van die jaar geword waar mense begin fokus het op dit wat hulle nie het nie of dan, nie meer het nie. Hierdie ingesteldheid los vir baie mense ‘n bitter smaak in die mond en dan is die opbou na Kersfees en Kersfees self, net negatief en sleg.

Die voorbeeld van hoe Kersfees behoort te wees word deur oulike Kersfees films uitgebeeld, asook in advertensies waar liggies blink en klokkies lui en dan gaan kuier jy by ander persone met liggies om die huis en ‘n indrukwekkende kersboom. Hierdie gee die indruk dat almal op ‘n wonderlike blink, kleurvolle Kerfeesrit gaan en en dit voel vir jou of jy agterbly. Vir baie voel dit dat die verwagting op hulle geplaas word om ook gelukkige tye met familie te hê of geskenke te kan uitdeel of met vakansie te kan gaan en dat hulle dan te kort skiet. Moontlik omdat hulle geskei is of omdat die kinders oorsee bly, dit kan wees dat ‘n persoon naby jou gesterf het of dat die finansies jaar na jaar al hoe stywer trek.

Gedurende Kersfees veg persone ‘n stryd tussen hoop en geluk en aan die ander kant realitiet en emosionele pyn. Die hoop van hoe verhoudings moes gewees het, hoe die toekoms homself moes uitgespeel het, wat ‘n persoon veronderstel was om in hul lewe te bereik en die harde realiteit dat dit wat ek gehad het, vir altyd verlore is. Kersfees dien as ‘n vergrootglas op die verhoudings (of die afwesigheid daarvan) in jou lewe, wat maak dat ‘n persoon ‘n opgewonde vooruitsig het om jou mense weer te sien, of aan die anderkant die wrewel; verlange of leegheid voel opwel oor ou verlore of verbreekte verhoudings.

Kersfees dien wel as ‘n vergrootglas vir ons leemtes, maar die besluit is dan elke persoon sin of hul hoopvol iets gaan doen om hul lewe te verbeter: “Ek is alleen, wat gaan ek daaraan doen?”; “My maat is dood, ek moet hul dood begin deurwerk”; “Ek is al jare kwaad vir die persoon, miskien moet ek maar trots laat staan en die ys breek”. Gedurende Kerstyd het ons meer tyd en meer geleentheid as ooit deur die jaar om aan gebroke of afgestompte verhoudings te begin werk.

Kersfees is ‘n tyd van dankbaarheid, soos dit ‘n tyd van hoop is. Deur die fokus weg te neem van alles wat jy nie het of meer het nie en om raak te sien wat jy het. Daar is verskeie studies in sielkunde gedoen wat bewys het dat persone wat elke dag 5 dinge neerskryf waarvoor hul dankbaar is na 2 maande meer gelukkig voel en selfs minder fisies siek voel.

Kersfees is ‘n tyd van gee, maar nie noodwendig van persente nie. Die belangrikste vereiste van gee is om die fokus van jou na ander te skuif. Sien raak wat ‘n verskil jy in iemand anders se lewe kan maak of wat ander werklik van jou nodig het, die buurtannie, die skoonmaker, die kasregister dame by die winkel, die karwag… vriendelikheid, aanvaarding, ‘n kompliment, ‘n hulpvaardige gebaar, ‘n bietjie belangstelling en bietjie omgee. Jou lewe gaan voller voel, meer sinvol wees en jy gaan ‘n diep warmte beleef want jy het lewensveranderende geskenkies uitgedeel.

In mitologie is daar baie vertellings van ‘n held wat gebore word in die donkerste periode van ‘n jaar, om tot die fisiese, emosionele of geestelike redding van die mens te kom. Die simbool van die boom wat na die hemel uitstrek word soms gesien as ons menswees wat groei, maar groei na hoogtes of in ons menswees of na God en die liggies op die boom is die lig wat die donkerte in ons lewe verjaag. Of jy ‘n Christen is of nie, hierdie is simbole van hoop word regdeur Desember gesien, die hoop dat die donkerte verjaag sal word en ons sal kan groei, jaar na jaar.

WOW Magazine – Living December 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search