Kersfees

Vir baie van ons is ons assosiasie met 25 Desember nie noodwendig slegs die viering van die Christusfees nie, maar ook die viering van saamwees. Dis is dalk die enigste tyd van die jaar waar waardevolle tyd saam met familie en vriende deurgebring word.

En soos die jare aanstap, bly dié groep nie noodwendig soos wat dit in die verlede was nie. Van die gesigte is nie meer om die tafel nie, want hulle het die tydelike vir die ewige verlaat. Dalk is daar ook nuwe gesiggies van babatjies wat gedurende die jaar hul opwagting gemaak het. Kersfees kan derhalwe ‘n tyd van blykskap sowel as heimwee wees.

Elke jaar gaan Kersfees nietemin gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met Jingle Bells wat karring in jou ore in die Mall breek die frustrasie van nog ‘n jaar se Kersfeesinkopies aan. Man en vrou en kinders is al klaar kwaad vir mekaar nog voordat die eerste geskenk gekoop is. Maar uiteindelik vind julle die kosbare juwele wat in ons gebêre word totdat Kersfees ons die vrymoedigheid gee om dit te deel en om net onsself te wees.

WOW Tydskrif wil graag aan een en elk hierdie Kersgety tonne vol saamwees toewens. Lag, wees bly en koester familie, geliefdes en vriende. Maak ook kontak met diegene waarmee jy kwaai gevoelens het, want Kersfees is die beste tyd ooit om te vergewe. Onthou, die dood is ons konstante metgesel en volgende jaar sit jy dalk met verwyte aan die etenstafel. Verwyte wat dikwels as gevolg van hardnekkigheid gebaar is. Vergifnis kos niks nie, in teenstelling met al die rande wat op geskenke spandeer word.

Laat die Kersfees van 2019 ‘n blymoedige ervaring vir elkeen wees. Finansieel gaan dit nie te waffers met baie lede van ons gemeenskap nie. Onthou die minderbevoorregtes en wees dankbaar vir wat jy het. Dit is genade. Materiële besittings het slegs aardsewaarde, maar ons verhoudings met mekaar en God het ewigheidswaarde.

Die WOW-Span wens ons al ons lesers en adverteerders ‘n geseënde en vreugdevolle Kersfees toe.

WOW Magazine – Living December 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search