Om Kersfees te vier Piet se storie

Desember het aangebreek en al wat nou tel is die jaarlikse verlof en, amper as ‘n bygedagte vir baie, die herdenking van die geboorte van ons Verlosser. Vir die ‘baie” is dit Krismis met oorvloedige etes, afgesluk met ‘n oormaat likwidêre versnapperings en hope speelgoed wat teen die middag reeds flenters is.

Dit is ook die tema van die gesprek daar waar ek en Ander Piet en Hennie onder die skaduwee van die wilgerboom sit en mediteer. Ons dink gesamentlik en afsonderlik aan vorige Kersdae: soos die keer toe ons met die hulp van ander vir die Ouetehuise ‘n heerlike Kersmaal kon verskaf, Ander Piet onthou die wonderlike Krismiskonsert op die klein dorpie waar hy moes instaan as Wyseman uit die Ooste en ook ander goeie herinneringe uit ons samesyn wat al oor etlike jare strek. Toe spreek Hennie, soms die praktiese een, die woord: “Wat gaan ons vanjaar doen?”

Aangesien die Boeing al oor is, knak ons elk ‘n kannetjie goue eikehout beleë skuimkoppie en laat die gedagtes gaan. Na nog twee vir elkeen bereik ons konsensus en die besluit is: Ons gaan self dienlike geskenke maak en ons spring dadelik aan die werk. Op ‘n plot soos Ander Piet s’n beteken “aan die werk spring” dat daar eers deur die skrêp gesoek moet word na die regte ysters. Elkeen loop met ‘n prentjie in sy kop van hoe sy skepping moet lyk en waarna hy soek. So teen die middaguur begin elkeen by sy eie werkstasie aan sy geskenke werk.Ons raak so begeesterd dat ons dwarsdeur etenstyd werk: die werksplek is ‘n kakafonie van klanke: graainders gil, gasvlamme sis soos boosaardige slange en hammerslae sorg vir die perkussie.

So teen tjailatyd lê ons die geskenke op die groot tafel neer vir beoordeling:

Hennie het ‘n miniatuur go-kart prakseer en kondig aan dat hy nog genoeg ysters het om ‘n hele paar seuntjies se harte te kan verbly. Ander Piet het meubels gemaak vir kinders en veral vir dogtertjies want daar is ‘n kot en ‘n prêm ook by. Hy het ook genoeg ysters om nog ‘n paar stelle te maak.

Ek, die boekemens, het boekstanders gemaak met allerlei krulle en met fensie fieterjasies aangeweld. Die plan is om elke stel staanders met ‘n paar boeke in as geskenk te gee.Ons keur mekaar se pogings gesamentlik en afsonerlik goed. Daar sak ‘n weldadige gevoel van welbehae oor ons toe en ons glo dat ons in ‘n paar harte vreugde gaan bring.

WOW Magazine – Entertainment December 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search