PLATTELAND SLAGHUIS ONDER NUWE BESTUUR

Op die plaas Witfontein, tussen Hartbeesfontein en Ottosdal wei ‘n groot kudde beeste rustig en vreet van die veld af. Net die beste van hierdie beeste word gekeur om as topgehalte A-graad vleis by Platteland Slaghuis in Klerksdorp aan die verbruiker gebied te word.

“Ons het ook ander weidingsplase waar ons beeste aanhou en voerkrale waar beeste additioneel gevoed word vir afronding voor hulle geslag word,” sê PC Leschinsky, mede-eienaar en bestuurder van Platteland Slaghuis.

Nà dekades op die plaas, drie geslagte later, het die slaghuis nou as ‘n natuurlike voortvloeisel gebeur. Marinus Leschinsky het die boerdery 20 jaar gelede by sy pa oorgeneem, nadat hy eers in die onderwys was. PC was nog altyd lief vir die plaas, maar wou ‘n ander rigting inslaan. Nà skool het hy ‘n graad in Entrepeneurskap en Honneurs in Bemarking verwerf, waarna hy vir 3 jaar by Freshmark, ‘n filiaal van Checkers, as Streeksaankoper gewerk het. Daarna het hy as internationale handelaar in landboukommoditeite gewerk, maar die baie reis het hom laat besluit om terug te keer plaas toe om saam met sy pa te werk.

“Die geleentheid om die slaghuis te koop het net op die regte tyd gekom,” sê PC. Al die ervaring wat ek opgedoen het, kom

nou baie goed te pas in die bestuur en bemarking van die besigheid.” Pa, Marinus bestuur die boerdery en voorsien die topgehalte vleis aan sy eie slaghuis. Ma, Alida Leschinsky, oudonderwyseres, sorg vir al die ander sake wat noodsaaklik is om die besighede te ondersteun.

“Wat belangrik behoort te wees, is dat vleis naspoorbaar is. Met ander woorde, die kieskeurige verbruiker wil weet waar die vleis vandaan kom en onder watter omstandighede die slagvee geleef het. In ons geval gaan die beeste direk van ons plaas af, slagpale toe en dan na ons eie slaghuis toe,” sê Marinus.

PC beloof dat ‘n besoek aan Platteland Slaghuis ‘n besonderse ervaring sal wees. Nie net is die gebou en toerusting opgegradeer nie – die produkte is ook van uitstaande gehalte. Droë verouderde vleis en medium tot langtermyn verouderde vleis sal ook na elkeen se smaak gemaak word. ‘n Verskeidenheid fynproewer produkte sal verbruikers weer en weer laat terugkeer vir meer!

Marinus, PC & Alida Leschinsky, trotse nuwe eienaars.

WOW Magazine – Living December 2019

Recent Posts

Start typing and press Enter to search