Tuintake Desember 2019

As jy Desember tuis gaan vakansie hou, kan jy nou jou beplanning regkry om die ekstra tyd te kan benut om plante deeglik met organiese bemesting te voed en ouer blomme uit te knip sodat meer knoppe kan vorm. As jy weggaan, tref nou al die nodige voorsorg dat jou lushof nie sal verwaarloos nie. Verlustig jou aan die kleurspel in jou somertuin en geniet ‘n blaaskans met ‘n lekker tuinboek onder ‘n koelteboom.

Plant houers vol kleur
Kikker ingange, stoepe en buitekuierareas op en laat jou gaste nog meer welkom voel. Doen dit so: • Sit potte vol jaarplante by ’n ingang vir trefkrag. Dwerggousblomme, salie, Nicotiana en ysterkruid hou van son, terwyl beddingbegonias, impatiëns, Torenia, josefskleed en krismisrose goed sal werk in skaduwee. • Kies wit, room, geel, pienk, appelkoos of rooi margrietjies met enkel- of dubbelblomme (Argyranthemum) in volle blom om kitskleur te gee in potte op die stoep. Hulle sal aanhou blom as jy gereeld die ou blomme verwyder.

Vertikale trefkrag
Skep vertikale trefkrag op ’n stoep deur rankende plante in diep houers te plant met tralies waarteen dit kan opgroei. ’n Outydse potstaander met verskillende vlakke is perfek om potplante in ’n hoekie uit te stal. ’n Koemkwat – ’n klein sitrusboompie wat net oor ’n meter hoog word – is ideaal vir ’n groot pot op ’n stoep. Jy kan ook ’n calamondin in ’n pot plant – met vruggies wat soos klein lemoentjies lyk, maak dit ’n pragtige vertoning in ’n houer.

As jy weggaan
• Voor jy die pad vat, sorg dat jou tuininstandhouding op datum is en alle onkruid uitgetrek is.
• Groepeer al jou potplante bymekaar sodat dit makliker is vir ’n vriend om dit nat te maak. Jy kan geharde huisplante buite los, maar maak seker dat dit beskut is teen direkte sonlig, reën, hael en wind – skep ’n tydelike skuiling van skadunet.
• Lang gras is ’n aanduiding dat die huismense weg is; reël dus dat jou gras gereeld gesny word.
• Maak jou randakkers en struike goed nat net voor jy met vakansie gaan, en strooi ’n dik deklaag van growwe kompos of bassplinters rondom die plante. Dit sal help om die grond koel en klam te hou.

Wenk vir die maand
Saai en plant beddingplante. Kry kitskleur deur saailinge en jaarplante in elke kaal kol en in potte regdeur die tuin te druk. Kies aquilegia, gousblomme, Barbertonse madeliefies, diascia, felicia, gaura, gazania, rudbeckia, stokrose, seeroogblommetjies, bloublombossies, lobelias, Afrikaners, sterblommetjies, skildblomme, salie, koringblomme, Shastamadeliefies en verbena op sonnige plekke. Plant Nieu-Guinee-impatiëns en begonias in die skadu.

Wenk vir die maand Plant jou nuwe plante met genoeg goed verouderde kompos en ‘n paar hande vol beenmeel, alles goed gemeng met die grond uit die plantgat.

WOW Magazine – Living December 2019

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search