Tuintake Mein 2021

Dit voel dalk nou vreemd om nou al te praat van ‘n wintertuin en miskien het die somer te kort gevoel. Alhoewel baie van ons heimlik wens dat die warm dae langer aangehou het, moet die eb en vloei van die lewe aangaan, asook verandering en vernuwing in die tuin. Gryp dus jou warm jassie en durf die koue aan. Geniet hierdie besonderse en pragtige tyd in jou tuin.

Natgooi
Die son is flouer en plante verkeer in ’n rusfase – die tuin moet nou minder water kry. Tog moet alle winterbolle weekliks die ekwivalent van 25 mm reën kry om te verseker dat die blomembrio tot ’n blom ontwikkel. Winterblommende struike soos azaleas en kamelias moet gereeld diep natgegooi word om blomme te verseker. Lugplante soos tillandsias, bromelias en takbokvarings is afhanklik van vog in die lug en moet nou en dan afgespuit word. Vrugtebome soos suurlemoene moet weekliks diep natgemaak word om te verhoed dat bloeisels vroeg afval. Die tuin moet nou in die oggend natgegooi word sodat blare en grond deur die dag kan droog word. ’n Nat plant kan in die winter letterlik doodvries.

Beskerm teen die koue
Gevoelige plante kan tot ’n mate beskerm word teen koue. Dit is egter onwaarskynlik dat effektiewe beskerming gebied kan word teen swart ryp en minimum temperature wat laer is as wat sagte plante kan hanteer. Die maklikste is om van die herfs geen ou blare op gevoelige plante soos olifantsore af te sny nie. Dit vorm ‘n “kombers” om die plant. Kyk waar die koudste kolle in jou tuin is en vanwaar die koue wind kom. Só kan sagte plante op geskikte plekke geplant word. Beskerm plante deur ’n wit vliesagtige materiaal, “Frost Cover” of “Covertan” te gebruik. Dit is liggewig en kan bo-oor groot plante met ongemaklike vorms getrek word. Frost Cover laat natuurlike lig deur en skep ’n kweekhuiseffek wat die plant beskerm. Probeer kontak tussen die materiaal en plant vermy deur stokke of pale in die grond te druk sodat die Frost Cover net-net bo die plant is.

Asemrowende bolle
Bolle moet voor einde Mei in die grond kom. Plant ranonkels en anemone in suksessie met drie weke intervalle sodat die blomperiode verleng word. Bolle hou van goed bemeste grond wat goed dreineer en benodig 40 minute besproeiing elke vier dae of 25 mm water per week. Kombineer blomplantjies soos Primulas, Papawers of heuningblommetjies met bolle vir asemrowende resultate.

Wenk vir die maand
Nou is die perfekte tyd om tulpe te plant omdat hulle van die koue hou. Tulpe verkies goedgedreineerde grond met kompos en beenmeel. Tulpe behoort in digte groepe geplant te word waar dié pragtige blomme soos bosse snyblomme in ’n vaas vertoon

Wenk vir die maand Plant jou nuwe plante met genoeg goed verouderde kompos en ‘n paar hande vol beenmeel, alles goed gemeng met die grond uit die plantgat.

WOW Magazine – Living May 2021

Recommended Posts

Start typing and press Enter to search