2018 Vol nuwe uitdagings! deur Lizelda Goslin

Home / Living January 2018 / 2018 Vol nuwe uitdagings! deur Lizelda Goslin

2018 Vol nuwe uitdagings!

‘n Nuwe jaar lê voor ons, met nuwe uitdagings, opwindings, trauma en dinge. Graag is die wens dat dit ‘n “voorspoedige nuwe jaar” gaan wees, wat dan ons hoop uitspreek dat daar nie traumas en dinge gaan wees in 2018 nie. Ongelukkig is pyn en seerkry so ‘n groot realiteit soos belasting en die dood.

Die lewe bestaan uit soveel keuses, wat ons moet aantrek, by watter winkel ons gaan inkopies doen, wat ons gaan maak vir aandete, ens. Die belangrikste keuses is egter hoe ek die lewe hierdie jaar gaan aanpak en watter ingesteldheid ek gaan hê teenoor krisisse, traumas en pyn wat oor my pad kan kom.

Meeste mense se ingesteldheid is dat hulle alle seerkry sal vermy en daarom sal hulle emosionele mure rondom hulle bou sodat niemand in hulle harte klim om enige pyn of ongelukkigheid te veroorsaak nie. Wat ons wel in gedagte moet hou is dat mure rondom ons nie net pyn, verwerping, ongelukkighede en teleurstellings uithou nie. Mure hou alles uit! Mure hou ook die positiewe buite… aanvaarding, liefde, nabyheid, koestering en ander mense se omgee vir jou! Verder hou mure ook alles binne, wat beteken dat seerkry en terleurstellings nie verwerk word nie. Dit wat binne die mure gehou word, broei, gis en vrot omdat daar geen ventilasie is nie. Met ander woorde, emosionele wonde kry nie die geleentheid om te genees nie en probleme word nie verwerk en deurgewerk nie, wat dan op sy beurt na depressie en angstoestande kan lei.

Die keuse om mure rondom ons te bou wanneer ons diep seergemaak was, is amper instinktief en soms is daardie verdedigingsmeganismes wel vir ‘n kort tydjie nodig om onsself te beskerm. Op die langtermyn het hierdie keuse om mense uit te sny en af te sny, ‘n meer negatiewe effek op ons menswees as wat dit tot genesing en groei lei!

Hierdie jaar moet ons nie net met positiewe voornemens begin nie, maar ook besluit om meer positiewe keuses oor die hantering van dilemmas en pyn in ons lewe te maak.

Hierdie keuses behoort voort te spruit uit ‘n meer positiewe lewensbeskouing wat in sekere sinne vasgelê kan word. Voorstelle hiervan is:
• Ek is sterk, ek kan krisisse hanteer!
• Dis nie SO erg nie.
• Die lewe is vol uitdagings en ek sal elkeen vat soos dit kom!
• Niks sal oor my pad kom wat ek nie kan hanteer nie!
• Ek groei en ontwikkel as mens, uit elke seerkry, krisis en trauma.
• Die verlede is verby en more is onseker, daarom kies ek om in vandag te leef!
• Alles gaan weer “OK” wees!

Mag 2018 wel voorspoedig wees en indien daar wel krisisse op jou pad sal kom, besluit om dit te hanteer en nie jouself toe te sluit nie. Mag jy aan die einde van 2018 terugkyk na die jaar en besef hoeveel jy gegroei het!

WOW Magazine – Living (January 2018)

Related Posts