Jy kan ’n geld-ghoeroe word

Home / Women March 2018 / Jy kan ’n geld-ghoeroe word

Jy kan ’n
geld-ghoeroe
word

Vroue bewys oor en oor hul superkragte met wat hulle alles op een dag kan vermag. Nie alleen sorg ma’s dat hul kinders betyds by die skool kom nie, maar die meerderheid verrig ‘n volle dag se werk, kook saans kos, weet hoe om ‘n eina beter te soen en hoe om ‘n driejarige te oortuig dat spinasie lekker is.

Bo en behalwe dit, toon navorsing deur Galileo ook dat vroue wêreldwyd beheer uitoefen oor bykans $20 triljoen se besteding. In Suid-Afrika is dit vir slegs 17% van vroue belangrik om vir hul toekoms te belê. Hulle fokus eers op die behoeftes van hul gesinne, terwyl dit vir mans belangriker is om hul lewensgehalte ná aftrede te behou.

WAAROM VROUE BETER BELEGGERS IS
Fokus op langtermyndoelwitte: Vroue sien geld in ‘n breër konteks en verbind dit met sekuriteit, onafhanklikheid en die lewensgehalte van hul gesinne. Mans neig om mededingend te wees. Hulle dink aan geld as ’n stroom wat in- en uitvloei, terwyl vroue geld as ’n “poel” sien.

Besin oor beleggings: Vroue neem meer tyd om beleggingsgeleenthede te ondersoek voor hulle enige besluite neem. Hulle het meer geduld, terwyl mans neig om impulsief te wees. Daarby hou vroue daarvan om in groepe meer oor finansies te leer, terwyl mans dit op hul eie doen.

Vra vir hulp: Vroue vra in die algemeen ook makliker vir hulp. Hulle neem meer tyd van adviseurs in beslag, maar sodra hul vertroue gewen is, word hulle lojale kliënte oor die lang termyn. Mans sal minder van adviseurs gebruik maak en dikwels hul eie kop volg.

Hantering van risiko: Net 31% van vroue is bereid om ‘n hoër risiko met hul beleggings te neem, vergeleke met 48% van mans, aldus Barclays. Net oor die 70% van vroue sien hulself eerder as spaarders. Warren Buffet sê sy sukses lê daarin dat hy “soos ’n vrou belê”. Volgens hom is dit nie intellek nie, maar temperament wat langtermyn beleggingsgroei verseker.

Meer emosioneel: Die meeste vroue ervaar emosie meer intens as mans. As ‘n vrou ‘n riskante belegging gemaak het, sal sy dit langer onthou en meer versigtig wees. Mans, daarenteen, glo hulle het genoeg kennis en sal gouer weer ʼn kans waag.

Selfvertroue en selfbeheersing: Navorsing toon dat mans ʼn oormaat van selfvertroue toon as dit by beleggingsbesluite kom, teenoor vroue wat spanning ervaar. Daarom verkies vroue om by hul beleggingsplan te hou, terwyl mans nie maklik uit hul foute leer nie.

Hoe JY kan begin belê: Die kort oplossing is om net te begin. Vir elke vyf jaar wat jy uitstel om te belê, moet jy drie keer meer insit om by dieselfde bedrag uit te kom. Beleggings hou geen groot geheim in nie en dit is trouens makliker om te belê as wat jy dink.

Doen bietjie huiswerk: Die eerste en belangrikste vereiste is dat jou kapitaal veilig is. Tweedens, weet wat die verwagte opbrengs is en bepaal hoe seker jy is om dit te kry. Dit is ook wys om beleggings te oorweeg wat streng gereguleer word.

Kry Vader Tyd aan jou kant: Om dadelik aksie te neem, is wat die meesterbelegger onderskei. Hoe meer jy uitstel, hoe groter is die skade. Hoe vroeër jy begin, hoe harder werk jou geld vir jou.

Moenie bang wees nie: Aftree-elende is jou voorland as jy nie beplan nie. Dit kan meebring dat jy lank voor jou dood reeds ’n finansiële dood sterf. Jy word eers ’n belegger wanneer jy jou geld neersit. Saai vandag die saad vir jou welvaart en vertrou jouself. Hoe meer jy belê, hoe meer kundig en selfversekerd word jy. Breek dus weg uit jou gemaksone en maak ‘n plan. So waarvoor wag jy?

WOW Magazine – Women (March 2018)

Related Posts