Ken Jouself! deur Lizelda Goslin

Home / Living March 2018 / Ken Jouself! deur Lizelda Goslin

Ken Jouself !

Om jouself te ken is nie net om te weet wat jou geliefkoosde kleur of voorkeurkosse is nie, maar dit is ʼn diep begrip van al die aspekte van jou menswees wat jou JY maak! Dit is ongelukkig nie ouderdom wat ons na die dieptes van selfkennis lei nie, maar eerder ʼn gewilligheid om moeite te doen om oor jouself na te dink, jou gedrag te analiseer, jou motiewe te verstaan, eerlik met jouself te wees en dan om al die aspekte van jou menswees te aanvaar. Socrates het die volgende stelling eeue gelede gemaak: “To know thyself, is the beginning of wisdom.”

Die begin van die pad na selfkennis en selfaanvaarding is die wete dat elkeen van ons positiewe sowel as negatiewe eienskappe, waardes en gedrag het. Ons almal is goed en sleg, positief en negatief, maak foute en doen dinge reg, het sterk en swak eienskappe en dit is die herkenning en aanvaarding van hierdie teenoorgesteldes wat ons die moed gee om onsself te leer ken en te aanvaar. Om jouself te ken, gee jou die moed en gemaklikheid om jou eie waardes, persoonlikheid, prioriteite en geloof meer respekvol (teenoor jouself en ander) en met selfgelding te kan uitleef.

Die “EK” word deur verskillende komponente saamgestel en indien jy graag die pad van selfontdekking gaan stap, moet elkeen van die aspekte ondersoek word. Die eerste is natuurlik om te besef wat jou persoonlikheid is. Mense met swak selfbeelde dink selde oor wat hulle persoonlikheid wel is, hulle fokus eerder op ander mense en hul “wonderlike persoonlikhede” en dan hul eie tekortkominge. Die persoonlikheid is ʼn vrugteslaai van al die eienskappe wat deel vorm van die persoonlikheid: soos om vriendelik of bot te wees, taakgedrewe of mensgeoriënteerd, ʼn ekstrovert of introvert, ens. Om jou persoonlikheid te ontdek, word maklik gemaak deur duisende persoonlikheidstoetse wat op die Internet beskikbaar is. Sommige van die toetse is nie so wetenskaplik korrek nie, so vind ʼn waardige webtuiste en doen die aanlyn toetse en vergelyk die resultate.

Die tweede belangrike aspek van ons menswees is die kernwaardes wat die rigting van ons lewe aandui. Waardes verwys na verhoudings, emosionele of fisiese dinge in ʼn persoon se lewe wat meer gewig dra, of dan meer waardevol is as enigiets anders in hul lewe. Volgens Dr Martie Lancellas is ʼn beginpunt om ʼn lys te maak van al die dinge wat vir jou belangrik is. Dit waarsonder jy beswaarlik sal kan lewe. Jou gesin, jou geloof, sukses, groei en ontwikkeling, geld, gesondheid, vriende, jou stokperdjies, vrede, beheer, selfversorging, integriteit of ʼn betekenisvolle roeping? Dink aan wat sin aan jou lewe gee en die karaktereienskappe wat jy respekteer en bewonder. Bring alles op jou lysie aan. Die dinge wat jy op die lysie neerpen, moet nie net belangrik wees nie, maar dit moet ononderhandelbaar wees. Anders is dit net mooi gedagtes op papier en sal jy nie daarvan werk kan maak om die waardes as riglyne vir jou gedrag, denke en menseverhoudinge in te span nie. Verminder stelselmatig die lys dat daar net vyf waardes oorbly… hierdie is dan jou vyf kernwaardes.

Die derde belangrikste aspek wat ons van onsself moet ontdek of in vele gevalle “herontdek” is ons voorkeure, afkeure, belangstellings, smaak en styl. Hierdie aspekte raak so vaag in ons verhoudings en lewenstyl dat soveel persone nie weet wat hulle smaak of styl is nie. In ʼn gesin sal die voorkeur appelkooskonfyt wees. Omdat niemand anders vyekonfyt eet nie, word dit nooit gekoop nie en die persoon het vergeet dat hulle eintlik daarvan hou. Mense vergeet hulle geniet die veld of om by water te wees omdat die lewe so besig is en hulle in elk geval nooit daarby sou uitkom nie. Om jouself te ontdek, besef of onthou wat bring ʼn glimlag, proe lekker, laat jou gemaklik voel of gee jou selfvertroue en doen moeite om jou voorkeure, belangstellings, smaak of styl uit te leef.

WOW Magazine – Living (March 2018)

Related Posts